Local newsNewsNews

Beste Voetjie Voor sit die kollig op side hustles by Aardklop

Zandélle Meyer, 'n oud-Potch Gimmie, wil die realiteite van baie Suid-Afrikaners in die werksomweging met haar debuut kabaretproduksie by Aardklop uitbeeld.

Vir die 26-jarige oud-Potch Gimmie en talentvolle akteur, Zandélle Meyer, hou Aardklop ‘n spesiale plek.

Vir haar is Aardklop gelyk aan sameko(m)s. ‘n Geleentheid waar feestelikheid mense bymekaar bring.

Zandélle, wat bekend is vir haar rolle in My F*k Marlize en Binnelanders gaan self haar eie kunstige natuur en skeppingvermoë in haar tuisdorp ten toon stel met haar debuutproduksie en eenvroustuk, Beste Voetjie Voor wat by Potch Girls High op die planke sal wees.

Beste Voetjie Voor is ‘n kabaretproduksiemet flair – ‘n verhaal met interessante kinkels wat volgens Zandélle die vraag in ‘n werksomgewing stel of side hustles watdie rekeninge betaal, direk teenstrydig is met dit waarvoor ‘n mens lief is om te doen.  

“Om ’n vryskutkunstenaar te wees – veral in Suid-Afrika en spesifiek in die Kaap – is nie altyd maklik nie. Baie mense trek Kaap toe op soek na ’n beter heenkome, maar die realiteit is dat die Kaap duur is. Om kop bo water te hou, moet jy dikwels een of selfs meer side hustles hê net om die rekeninge te betaal,” verduidelik sy die konsep.

Zandélle noem dat hierdie produksie na aan haar hart lê. Foto: Nardus Engelbrecht.

“My vervaardigter, Erasmus (Esterhuizen) het voorgestel om die hoofkarakter ‘n DJ te maak. DJs is ook vryskutkunstenaars, maar daar is iets meer hedendaags en energiek aan daardie wêreld. So het die ratte begin draai, en ek het besef die storie gaan eintlik oor veel meer as net kunstenaars. In vandag se ekonomie hustle byna almal. Mense werk voltydse poste en het steeds side hustles om klaar te kom. Dit is nie net die realiteit van jongmense in die Kaap nie; dit is die realiteit van baie Suid-Afrikaners.”

Zandélle is opgewonde om Beste Voetjie Voor op te voer en wil graag jong mense lief vir teater maak. In dieselfde asem wil sy die belangrike temas vaslê.

 “Die lekker ding van ’n gehoor is dat alhoewel daar ’n gesprek op die verhoog plaasvind is daar ook ’n persoonlike gesprek tussen die akteur en die gehoor,” noem sy.

Hannie is ‘n aspirant DJ wat nuwe goed moet probeer om geld te maak na sy haar werk in ‘n klub verloor. Foto: Nardus Engelbrecht

Kabaret is nog iets wat relatief nuut vir haar is, maar sy het al vertonings van ikoniese kunstenaars soos Elzabé Zietsman en Amanda Strydom gekyk wat inspirasie bied.

“Wanneer ek Amanda Strydom of Elzabé Zietsman se vertonings kyk voel dit asof die musiek die temas so mooi afrond. Asof jy begin verwerk wat jy op die verhoog sien.”

Potch sal altyd ‘n spesiale plek in Zandélle se hart hê. Haar ma en ouma woon nog in Potch. Hul boerekos is vir haar koningskos.

“Ek word herinner aan die skoolmeisie wie ek toe was wat grootoog en met absolute verwondering na ikoniese akteurs gesit en kyk het en gedroom het om ook eendag dit te kan doen. Die saadjie was definitief geplant al op Hoërskool met baie van die produksies wat prof. Pierre-André Viviers behartig het,” vertel Zandélle.

Haar raad aan akteurs is om nuuskierig te bly en altyd die “hoekom” te antwoord.

“Sodra jy jou “hoekom” het kan jy berge versit en steeds aan die ander kant uitkom. Dis alles goed en wel om jou drome te volg, maar begin van vroeg af entrepreneuries dink oor side hustles en jou eie werk te skep sodat dit soos tweede natuur voel. Sodoende sal jy nie bomskok kry sodra jy die industrie betree en dink die rolle gaan instroom nie.”

Beste Voetjie Voor (Vertoningbesonderhede)

Zandélle vertolk die rol van Hannie, ’n aspirant-DJ wat haar voltydse klubwerk verloor en in Kaapstad moet oorleef deur eenmalige optredes, kelnerwerk en selfs die verkoop van voetfoto’s.

Die bekende aktrise, Je-ani Swiegelaar, behartig die regie, terwyl Zandélle ook die stelontwerp geskep het. Marcel Dednam behartig die musiek op die verhoog. Die oud-Volkie, Erasmus Esterhuizen, is verantwoordelik vir verhoog- en produksiebestuur asook vervaardiging.

Kontemporêre Kabaret | Meertalig | Geen onder 16 | 75 minute.

Vertonings (Venue: Potchefstroom Girls High)

  • 29 September – 16:30
  • 30 September – 16:00
  • 1 Oktober – 15:30

Kaartjies

  • R180 vooraf
  • R200 by die deur
  • R160 (Hartsvriende)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button