Potchefstromer vat jou op ‘n heerlike nostalgiese reis
Die Potchefstromer, Elena du Plessis, se Facebookblad "1986 Stories" het al amper 9000 aanhangers waar sy interessante stories en nostalgie daagliks deel. Dit als om haar 40ste bestaansjaar met ander te deel.
Wie hou nou nie van ’n bietjie nostalgie nie – ’n mens word tog net een keer 40.
In die afgelope paar maande het die Potchefstromer, Elena du Plessis (née Liebenberg) se sosiale mediaplatform, 1986 Stories, mense se aandag getrek met allerhande interessante foto’s en gepaardgaande stories wat sy publiseer. Haar blad het amper 9000-followers.

Dit is alles van haar eie 16de verjaardag en kinderjare in Potch tot ’n hele paar “kan jy onthou”-staaltjies, soos spesifieke lekkernye wat nie meer op die mark is nie of plekke in Potch wat nie meer bestaan nie.
Die reaksie op haar plasings kom van oral, Suid-Afrika sowel as oorsee, met lesers wat terugkyk en al die lekker tye onthou.
“Ek is van sentiment en nostalgie aanmekaar gesit, so dit is vir my heerlik om in my argiewe te krap en deur al die memories te stap terwyl ek aan die staaltjies en stories skryf.”
“Soms sal ek iets in ’n tweedehandse winkel of in ’n ou tydskrif sien wat my ’n terugflits gee van iets waarvan ek al vergeet het. Dan het ek ’n nuwe storie om te vertel,” noem Elena, wat ’n UX/UI-ontwerper vir toepassings en webtuistes in die finansiële industrie is.
Die idee om 1986 Stories te begin, het een Sondagmiddag in Maart 2025 posgevat.
Haar idee was aanvanklik om verskeie mense se stories te vertel wat vanjaar 40 word en saam met haar ’n 1986-geboortedatum deel. Die reaksie was egter nie so oorweldigend soos wat sy aanvanklik gedink het nie. Dit het haar nie gekeer nie en sy het besluit om dit self aan te pak.

“Aan die een kant was ek maar bang, want jinne, die internet kan maar soms ’n vreemde plek wees, maar my dryf om 40 nie ongesiens verby te laat gaan nie, het die bang stemmetjie sommer vinnig stilgemaak.”
Elena was op daardie stadium in die buiteland en het tydens ’n vakansie in Suid-Afrika twee weke spandeer om al haar argiewe af te neem sodat sy haar stories daaroor kon skryf.
“Min het ek geweet dat ek drie maande later onverwags uit die buiteland sou terugkeer en op Potch ’n holte vir my voet sou kry. Dit stel my nou in staat om meer as net my foto’s wat ek toe afgeneem het, te gebruik en dieper in die argiewe te delf.”
Sy vertel dat dit vir haar vreeslik lekker is om mense se kommentaar te lees en ook interessante gesprekke aan te knoop.
“Die heel lekkerste is as iemand kommentaar lewer: ‘Core memory unlocked!’- dit maak al die soek in die argiewe en ure agter die rekenaar om alles saam te stel die moeite werd,” noem Elena.
Sy skryf self al haar stories sonder die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI), neem haar foto’s en stel dit saam, en doen navorsing oor elke deel van haar storie voordat sy dit publiseer.

Elena deel staaltjies soos toe sy haar man vir ’n wildvreemde man misgis het wat dubbellaagtoiletpapier by Checkers koop, sowel as haar obsessie met die Backstreet Boys – sy het as kind gehoop om met een van hierdie hartebrekers te trou.
Sy skryf in haar moedertaal en skryf soos sy praat om dit outentiek en eg te hou. Mense het ook al vir haar hul eie foto’s en herinneringe per e-pos gestuur wat baie spesiaal is.
“Die ding wat my die meeste verbaas, is wanneer ek iets plaas wat ek dink nie veel aftrek sal kry nie, want dit is byvoorbeeld net ’n foto van ’n Tupperware-melkbeker met die sakkie melk waarvan die hoekie afgesny is. Maar ek plaas dit in elk geval, want dit is vir my so nostalgies. ’n Paar ure later is daar dan soveel kommentaar op die stomme foto dat ek omtrent teen die spoed van lig moet lees om by te hou.”
Van Elena se plasings op 1986 Stories





Elena het in 1994 in Potch aangekom en was in Laerskool M.L. Fick. Sy het in 2004 aan Potchefstroom Volkskool gematrikuleer. Sy het ook Kommunikasiekunde aan die NWU se Potchefstroomkampus van 2005 tot 2008 studeer. Sy is ook getroud met ’n Potchefstromer.
Sy noem dat Potch al baie uitgebrei het, maar dat die mense steeds ongelooflik vriendelik is, alles binne 15 minute se bereik is en dit ’n familiedorp met die beste skole, medici en winkels is.
“As een van my stories jou net vir ’n oomblik kan terugneem na ’n tyd van lekker herinneringe, is my dag gemaak.”



