Local newsNewsNews

Dis heerlike lente saam met Aardklop met spesiale afslag op produksies

Vanaf 1 September om 08:00 en 3 September om 20:00 kan feesgangers op 17 produksies afslag kry.

1 September is tradisioneel Lentedag. Hoewel die Kapenaars dalk nie sal saamstem dat die weer dan al warmer is nie, is die dagtemperature in die noorde dan al aansienlik aangenamer. As viering van die nuwe seisoen, wat nuwe lewe verteenwoordig, bied Momentum Aardklop vir ’n beperkte tyd 30%-afslag* op die kaartjies van ’n lys uitgesoekte produksies. Hierdie promosie geld tussen Dinsdagoggend (1 September) om 08:00 en Donderdagaand (3 September) om 20:00.

Kry jou afslag só

Om dié afslag te kry vir die uitgesoekte produksies gaan na SeatMe.co.za, kies die produksies waarvoor die promosie geld, en wanneer jy betaal, voeg jy die kode BLOM26 in

Die produksies waarvoor die afslag geld:

Leon Gropp: Sê dit soos dit is: Die woordsmid en musikant Leon Gropp (van Ontbytsake-faam) delf met kwinkslae en pittighede, tong-in-die-kies en kitaar-in-die-hand, spitsvondig in die alledaagse. Ook met Marcel Dednam (klavier) en Jardus Smith (tromme). (Volprys: R180. Afslagprys: R126)

Dieretuin: Kaz McFadden het dié Edward Albee-teks vertaal en verwerk. Twee mans ontmoet op ’n parkbankie. Wat begin as ’n ongemaklike gesprek, ontwikkel vinnig in ’n ontstellende konfrontasie oor eensaamheid, menslike kontak en die dun lyn tussen beskawing en dierlikheid. Met Kaz McFadden en Hannes Brümmer. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)

Algemene kennis: ’n Deelnemer aan ’n fiktiewe vasvraprogram probeer ’n miljoen rand met sy abnormaal goeie algemene kennis wen. Maar die aanbieder gaan hy uit sy pad uit om seker te maak die deelnemer wen nie die miljoen nie. Met Pierre Breytenbach en Johan Marais. (Volprys: R200. Afslagprys: R140)

Eerste vir alles: Eeue nadat hulle uit die paradys gesmyt is, besin Adam (Frank Opperman) en Eva (Margit Meyer-Rödenbeck) oor die huwelik. Dis ’n romantiese komedie oor om saam ou bene te maak, veral as een die ander ’n ribbebeen skuld. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)

Tronk met ’n D: Wanneer Leksie Pieterse tronk toe gestuur word vir moord, beland sy in ’n sel saam met die manipulerende Cruella Barnard en die legendariese Daisy de Melker – wat glo lankal dood is. Met Elzabé Zietsman, Ignatius van Heerden en André Lötter. (Volprys: R240. Afslagprys: R168)

Vlindervry: Daan Bekker (Heinrich Wentzel) is ’n blinde 19-jarige wat pas Kaapstad toe getrek het, deels om ’n sangloopbaan na te streef, maar hoofsaaklik om hom onder sy beheervraat van ’n ma (Cindy Swanepoel) se vlerk uit los te woel. Sy nuwe buurvrou is die vrygeestige Griet (Jeanne-Marié Koekemoer), en kort voor lank is hulle smoorverlief. Ook met Geon Nel. (Volprys: R250. Afslagprys: R175)

Seun: Ná suksesvolle speelvakke en verskeie bekronings keer Seun op gewilde aanvraag terug na Aardklop. Die produksie het vyf Momentum Aardklop-pryse in 2025 ontvang, waaronder beste toneelaanbieding, beste regie en gehoorgunsteling, en is ook bekroon met die Woordtrofee vir beste eenpersoonsvertoning by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2025. Met Wilhelm van der Walt. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)

Mozart to Verdi: Two Faces of Opera: Sprankel en hartseer is in stryd met mekaar op die verhoog wanneer die NWU Opera Ensemble kragte saamsnoer met die Nürnberg Hochschule für Musik se kamerorkes in ’n kragtige konsertweergawe van opera se mees elektriese oomblikke. (Volprys: R180. Afslagprys: R126)

Gebou soos Steffi Graf: Ná al die vreesaanjaende berigte en vals nuus oor Wilgenhof (die oudste manskoshuis in Stellenbosch) probeer Chris Vorster angs en trauma uit sý jare in dié “konsentrasiekamp” onthou, maar ál wat sy geheue kon baasraak, was flitse van vriendskap en fantastiese partytjies. Teks deur Chris en Liza Vorster. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)

Oorsprong: Die pianis en komponis Marcel Dednam maak sy feesdebuut met ’n versameling eie komposisies, aangevul deur stylvolle jazzverwerkings van bekende liedjies, spontane improvisasie, asook ’n unieke samesmelting van Afrikaans en jazz. Ook met Werner Spies, Peter Auret en gaskunstenaars. (Volprys: R160. Afslagprys: R112)

Vlerktog (Pronk Podium): Twee pare vriende neem die uitdaging aan om Berg Azrael te trotseer – elkeen met hul eie doelwit voor oë. Dit is ’n verhaal van selfopoffering, dapperheid, Voortrekkers, vlerke, selfaanvaarding en, bowenal, vriendskap. Met Blyde Schoeman, Hendré Henning, Kevin Olckers en Symone Venter. Teks deur Wessel Pretorius. (Volprys: R160. Afslagprys: R112)

Charl du Plessis Trio: Take a Sad Song and Make It Better: Ná die sukses van Bach & Beatles kyk Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme) terug op musikale hoogtepunte van die afgelope twee dekades. (Volprys: R200. Afslagprys: R140)

Liefde, Lafras: Lafras (Gerben Kamper) sterf, maar verlaat nooit die huis nie. Nou sukkel Gertie (Antoinette Kellermann) om haar lewe met haar man se spooklewe te versoen. (Volprys: R230. Afslaprys: R161)

Hartsbriewe: Laat die klanke van Coenraad Rall se klavier jou dra na vervloë oomblikke, terwyl die geliefde TV-aanbieder en akteur Hannes van Wyk jou op reis neem met ’n keur van briewe wat soos geheime in ’n ou laai gebêre was. Teks deur Desiré Gardner en Hannes van Wyk. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)

Joshua na die Reën: Noorderlig: Musiek uit die binnewêreld van Jacques de Villiers (Joshua na die Reën). Ook met Raziela Grey, Stephen Jonathan Kosterman, Marius van Wyk, Lardo de Beer en Jacques Scorgie (Volprys: R220. Afslagprys: R154)

Die Boulevard Harmoniste: Nou of nooit!: ’n A cappella-musiekreis deur oomblikke wat ons almal ken: die gejaag van tyd, die stilte van die nag, verlange na vervloë dae, en die vreugde van saam onthou. Met Lara Badenhorst (sopraan), Kristen Koekemoer (mezzo-sopraan), Lanka Stols (alt), Hava-ja-toivo Carels (tenoor), Daniël van Wyk (bariton), Frans Venter (bas), Kobus Venter (musiekregisseur). (Volprys: R170. Afslagprys: R119)

The Scullery Quintet: Seasoned to Taste!: Gehore kan ’n heerlike mengsel van besondere jazz-improvisasies, ritmiese Afrika- en Latynse invloede en klassieke elegansie verwag. Hulle het talle pryse ontvang, insluitend beste musiekgedrewe produksie in 2025 by die Momentum Aardklop-fees en in 2026 by die kykNET Fiësta-toekennings. Met Hana Yim-Wahl, Waldo Alexander, Tiisetso Mashishi, Viwe Mkizwana en Peter Auret. (Volprys: R170. Afslagprys: R119)

Geniet ook 30%-afslag op ’n dagkaartjie vir die feesterrein. As jy tydens die promosietydperk hierbo genoem jou dagkaartjie vir Vrydag 2 Oktober koop, betaal jy net R84 in stede van die gewone R120.

*Let wel, hierdie afslag is slegs van toepassing op die volle kaartjieprys. Hartsvriende en pensioentrekkers betaal reeds minder vir kaartjies, en kom daarom nie vir hierdie afslag in aanmerking nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button