Die oud-Laerskool Mooirivier krieketspeler, Schalk Coetzee, gaan nou weer vir Suid-Afrika in sy tweede binnenshuise Wereldbeker kriekettoernooi verteenwoordig.
Coetzee, wat tans ‘n Graad 11 leerder by Affies in Pretoria is, gaan vanaf 26 September tot 3 Oktober by die Atterbury Teater in Pretoria teen die wêreld se bestes in Junior Wêreldreeks deelneem.
o13, o15 en o17’s van SA, Australië, Nieu-Seeland, Engeland, Indië, Sri Lanka en die VAE neem onder andere deel.
Schalk het beïndruk by verlede jaar se Interprovinsiale Toernooi waar hy en sy Suid-Gautengspan as wenners gekroon is. Hierdie kranige paaltjiewagter is vir die finale proewe is in Januarie genooi waar hy uitgeblink het en in die SA span opgeneem is.
Schalk het in 2023 in Dubai ook sy land verteenwoordig. Hy het sedert daardie tyd sy vaardighede as paaltjiewagter en kolwer verder verskerp in hierdie aksiebelaaide krieketformaat.
Om in binnenshuise krieket te presteer moet ‘n mens rats en atleties wees en dit is presies hoe Schalk flink en vinnig agter die paaltjies beweeg.
Hy is tans die nommer een junior paaltjiewagter in die land.
Al het Schalk vanjaar se IPT-toernooi weens ‘n skoletoernooi in Sri Lanka misgeloop het hy hou hom skerp agter die paaltjies gehou.
Sy pa, Schalk, noem dat sy seun ‘n harde werker is in alles wat hy doen en dat dit tot sy sukses lei.





