Polisie arresteer vermeende huisrower en verkragtingsverdagte
Kolonel Adéle Myburgh het gesê die gemeenskap se samewerking het ook ’n belangrike rol in die ondersoek gespeel.
Die Potchefstroom-polisie het ’n deurbraak gemaak in die ondersoek na ’n beweerde huisroof en verkragting nadat ’n verdagte binne tien dae ná die aanmelding van die saak opgespoor en in hegtenis geneem is.
Die voorval het volgens die polisie in die vroeë oggendure van Sondag 30 Augustus by ’n woning in Potchefstroom plaasgevind.
’n 52-jarige vrou, wat pas in die woning ingetrek het, is na bewering deur ’n onbekende man aangeval nadat hy toegang tot die huis deur ’n gebreekte venster verkry het. Die verdagte het glo geld van die vrou geëis voordat hy haar aangerand het.
Deur samewerking tussen die Potchefstroomse speurders, Misdaadintelligensie en die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum kon die verdagte geïdentifiseer en opgespoor word.
Die man, wat volgens die polisie ’n vermeende ongedokumenteerde immigrant van Zimbabwe in sy vroeë twintigerjare is, is Woensdagmiddag 9 September by ’n bekende landgoed in Potchefstroom in hegtenis geneem. Hy het glo op die landgoed as ’n teëlaar gewerk.

Die verdagte sal na verwagting Vrydag 11 September in die Potchefstroom-landdroshof op aanklagte van huisroof en verkragting verskyn.
Kolonel Adéle Myburgh het gesê die gemeenskap se samewerking het ook ’n belangrike rol in die ondersoek gespeel nadat die polisie ’n identikit van die verdagte bekend gemaak het.
“Die inligting wat deur gemeenskapslede aan die polisie verskaf is, was baie waardevol en het ons gehelp om die verdagte op te spoor,” het Myburgh gesê.
Volgens die polisie het die slagoffer, ondanks die trauma wat sy ná die voorval ervaar het, die ondersoek verder gehelp deur ’n identikit saam te stel. Sy het die vermeende verdagte later positief tydens ’n identifikasieparade uitgeken.
Die Noordwes Provinsiale Kommissaris, luitenant-generaal Arthur Adams, het die Potchefstroomse polisie-eenhede geloof vir hul volgehoue pogings om die verdagte aan die pen te bring.
Hy het ook sy waardering uitgespreek teenoor die slagoffer vir haar moed en veerkragtigheid.
“Geslagsgebaseerde geweld bly ’n ernstige bekommernis in ons gemeenskappe, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal voortgaan om oortreders meedoënloos te vervolg en toe te sien dat slagoffers die ondersteuning en beskerming ontvang wat hulle verdien,” het Adams gesê.
Hy het gemeenskappe verder aangemoedig om steeds met die polisie saam te werk en enige inligting wat kan help om oortreders van geslagsgebaseerde geweld voor die gereg te bring, aan te meld.
Die polisie se ondersoek duur voort.



