Oom Jan sal onthou word vir sy diensbaarheid in die sekuriteitsbedryf
Jan van der Westhuizen was sedert 2002 in die sekuriteitsbedryf en het vir omtrent elke sekuriteitsmaatskappy in Potchefstroom gewerk.
Een van Potchefstroom se hardwerkende figure in die sekuriteitsbedryf, Jan van der Westhuizen (63), is gistermiddag (9 September) in ‘n tragiese ongeluk oorlede toe ‘n trok hom op sy fiets getref het.
Die ongeluk het omstreeks 17:30 op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Du Plooystraat gebeur.
In die sekuriteitsbedryf het almal hom as “Oom Jan” geken. Hy was sedert 2002 in die sekuriteitsbedryf en het vir omtrent elke sekuriteitsmaatskappy in Potchefstroom gewerk, onder andere CSS Sekuriteit, CB Sekuriteit, Knight Force Sekuriteit, Electro Sekuriteit en Mooirivier Beskerming.

Hy was 36 jaar met sy vrou, Antoinette, getroud en hulle was 37 jaar saam. Hulle het ‘n 31-jarige seun, Jason, sowel as ‘n sesjarige kleindogter.
“Hy was ‘n man wat gelewe het vir sy werk. Hy was baie presies met sy werk. ‘n Baie beskermende mens ook. Ek, my seun en kleinkind was sy hele lewe. Ons was ‘n baie hegte paar gewees en alles saam gedoen. Ek was saam met hom in die sekuriteit, ons het alles saam gedoen,” vertel Antoinette.

Jan het sy loopbaan by Emerald Casino in Vanderbijlpark as ‘n BBP-bestuurder begin. Daarna was hy ‘n lyfwag en het hy in gewapende reaksie gewerk. Sy laaste werk voor sy afsterwe was by Danie Rothman as ‘n lyfwag.
Jan se wens was dat hy veras word.
“Hy soek geen begrafnis of roudiens nie. Ek en my seun sy as in Durban strooi. Dit is waar hy gebore is en ook groot geword het.”
Die Potchefstroom First Responder Facebook-groep het ook hul medelye met Oom Jan se familie, vriende en kollegas gedeel.
Een van sy voormalige kollegas, Francois Visagie, eienaar van Knight Force Sekuriteit, sê hy gaan Oom Jan mis.
“Hy was ‘n baie goeie werker gewees. Hy het twee jaar by my gewerk by Knight Force Sekuriteit. Ons het vroeër by CSS Sekuriteit saamgewerk. Ek en Oom Jan kom al ‘n lang pad saam. Dit is ‘n hartseer storie wat met hom gebeur het. Mag hy in vrede rus. Ons gaan hom mis.”



