Local newsNewsNews

Lesersbrief: Op hierdie manier word die Trimpark ‘n onding

Die Trimpark en strate het soos 'n stortingsterrein gelyk vol drankbottels, KFC en McDonalds kartonne, papiere, kledingstukke en natuurlik gebreekte glas.

Izak Smalman skryf:

Ek het oor die jare daaraan gewoond geraak dat daar soms ‘n dag of dae aanbreek waartydens ek die nag nie ‘n oog sal toemaak weens een of ander aktiwiteit oftewel festival wat by die Trimpark plaasvind. Ek pas my dan maar by die omstandighede aan. My huis is minder as ‘n kilometer van die Trimpark geleë. Die afgelope naweek se festival het egter alle vorige rekords oortref. Die geleentheid was die “DJ  Zodi One Man Show”.

Vroeg Saterdagmiddag is Retiefstraat en Govan Mbekilaan vir verkeer gesluit. Dit het my nie gepla nie, ek weet hoe om ompaaie te gebruik, en ek weet ook hoe om nie teen die winkeltrollies vas te ry wat vol drank na die Trimpark heen en weer oor die strate gestoot word.

Die toneel in Govan Mbekilaan oorkant die Trimpark waar konsertgangers oor die pad loop. Foto: Verskaf

Om 18:00 Saterdag het die musiek begin en dit het gevoel asof alle hel losgebars het. My huis se vensters en deure het in die rame begin ratel en later sommer die diefwering ook. Wat dit vererger het, is dat hierdie “One Man Show” net twee wysies beskikbaar gestel het wat deur die nag gedawer het. Geen apparaat, behalwe miskien my moermeter, kon die geraasvlak van die musiek meet nie. Genadiglik het dit om 05:30 Sondagoggend opgehou.

Ek het later die oggend by die Trimpark verbygery en ‘n toneel aanskou wat ek nie weer wil sien nie. Die Trimpark en strate het soos ‘n stortingsterrein gelyk vol drankbottels, KFC en McDonald kartonne, papiere, kledingstukke en natuurlik gebreekte glas. Ek het twee bewustelose mense gesien lê, een was ‘n vrou wat moontlik later sou gaan kla dat sy verkrag is.

Waarop ek aandring, is dat mense wat my woonbuurt besoek, hulle hou by die norme en standaarde wat ek en my mede inwoners stel: 

  • Eerstens om mense nie die hele nag uit die slaap te hou met ‘n gedoef doef wat as musiek beskryf word nie. 
  • Tweedens om nie die buurt vol rommel te strooi nie.
  • Laastens, om nie die omgewing as ‘n openbare toilet te gebruik nie.

Is dit te veel gevra?

Die munisipaliteit stel die Trimpark op ‘n lukrake wyse beskibaar sonder om die inwoners se behoeftes in ag te neem. Sodoende word die Trimpark ‘n steen des aanstoots.

Wanneer daar ‘n jooloptog en vieringe by die Joolplaas plaasvind, word streng voorwaardes gestel soos geraasvlakke wat aanvaarbaar moet wees, asook ‘n tydgrens soos middernag wanneer die bedrywighede moet eindig.

Ek is reeds besig om my sielkundig voor te berei vir die feestye wat om die draai lê en wag en wat ek deurnag moet gaan trotseer. Dit gaan beslis ‘n groot hap uit my drankvoorraad neem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button