Plaaslike bakker wen prys met sy stalletjie
Casper Matthee, wie Potch-drawwers as “Die Broodman” ken, is een van die entrepreneurs wat by Momentum Aardklop 2026 se stalletjies mense laat smul het.
Om 04:00 die oggend, lank voor die feesgangers opdaag, trek Casper Matthee reeds sy brood uit die oond.
Saam met hom stort Wilna Odendaal, mede-eienaar van The Food Hive saam met haar man, hulle hart en siel in die tuisgemaakte burgers by stalletjie K25.
Haarkapper Marietjie van Tonder van Geskaaf met Liefde het met haar eerste Aardklop drie toekennings gewen. By die speelgoedstalletjie van Dorette Snyman, Dolly’s Doll House Creations, het die baba-stelletjies almal verras. Vanjaar se wenners bewys dat die fees nie net oor kuns en musiek gaan nie, maar ook oor die harde werk en toewyding wat agter die stalletjies op die feesterrein skuil.

Arissa Cronjé, NWU Nuushond, het met die entrepreneurs gepraat om meer te hoor oor die eise en vereistes van reisende entrepreneurs:
Casper Matthee, Dough Bru
Hoe het jy begin?
Ek het by die VARSmark begin. Dis ’n plaaslike mark hier in Potch. Dis maar ook hoe ek my besigheid op die been gekry het.
Hoe het jy besluit dat hierdie feeste die moeite werd is?
Dis net die aftrek wat ek daarvan kry. Dis nie noodwendig die brode wat ek verkoop nie, maar ek sien dit as ’n bemarkingsinstrument om mense bewus te maak. Dit is vir al die mense wat hier in Potch is, sodat ek vir hulle kan sê waar hulle hul week se brood kan kry.
Hoe lyk ’n tipiese dag vir jou?
By die feesgronde? Nee, ek dink dit gaan oor meer as net die feesgronde. Jy kan iets anders daarby sit. Jy kan praat oor ek wat om 3 uur soggens bak om die brode reg te kry vir die dag. Die ding met suurdeeg is dat dit ’n baie natuurlike deeg is wat lank vat om reg te wees. Ek moet baie lank vooraf begin bak.
Teen 9 uur het ek al ’n hele paar brode gebak, en dan begin ek hier verkoop. Ek wil vir die kliënte vuurwarm en vars brode gee. Ek het iemand wat hier vir my staan terwyl ek bak. Dis net in die middae wat ek hier sit.
Sal jy dan sê dat so iets finansieel die moeite werd is?
Ja, definitief, op die ou einde van die dag kry jy baie aftrek. Dit is ook goed vir my om sulke blootstelling by Aardklop te kry. Dit beteken dat daar nog meer mense is wat van my en my stalletjie weet.
Watter raad sal jy aan iemand wat ‘n rond-reisende entrepreneur wil word?
Maak seker jy het ’n kontantvloei. ’n Mark kan duur word, want jy sit heeldag hier. Jy moet steeds sorg dat jy kan eet. Dit gaan nie net oor die koste van die produk nie, maar ook om die stalletjie aan die lewe te hou, soos as jy ’n banier of net iets so eenvoudig soos kabelbinders nodig het. Bou jouself op en maak seker dat jy ’n goeie kontantvloei het wanneer jy begin.

Wilna Odendaal, The Food Hive
Hoe het julle begin?
Ons altwee is al van kleins af in die gasvryheidsbedryf, want ons ouers het, nog voor ons mekaar geken het, by onthaalplekke kos vir groot getalle mense voorsien. Toe ons getrou het, het ons agtergekom dat ons hierdie passie deel. Want dis hoe ons grootgeword het.
Is daar enige ander feeste waaraan julle ná hierdie gaan deelneem?
Ons doen baie Kragdag en ook baie rallies, soos motorfietse en daardie soort geleenthede.
Watter struikelblokke het julle al teëgekom?
My struikelblok is die kliekies. Elke fees het sy gewone outjies, en om in te kom is moeilik, want hulle gee nie sommer ’n nuweling kans nie. Om hier te kom, het ons regtig met Yvette gesels. En sy het ons hier by Kragdag kom sien. So ek moes my handelsmerk daar buite sit om te sê dis wie ek is. Hulle is baie geneig om jou met die ou langsaan te vergelyk, en ek dink hulle moet ’n regverdige kans gee en kyk na wie jy is. Hulle moet sê: ‘Ek sien wat jy doen en kom ons gee jou ’n kans.’
Enige finansiële struikelblokke wat julle al vantevore beleef het?
Kom ek sê vir jou, as die bemarkingspan ’n goeie werk doen en die voetverkeer bring, dan is dit finansieel die moeite werd. Ek dink wat hulle wel in ag moet neem, is dat stalletjies baie kos en dat dit sonder voetverkeer moeilik is.
Enige raad vir mense wat nuut begin?
Moenie holderstebolder hierin spring nie. Doen jou navorsing en maak seker dat dit regtig die moeite werd is.
Dorette Snyman, Dolly’s Doll House Creations
Hoe het jy jou besigheid begin
Die dametjie wat eerste vir my gesê het, het my by die mark ingekry. Toe het sy my gehelp en my geleer hoe om dit te doen. My heel eerste mark was ’n mark in Krugersdorp.
Hoe besluit jy watter feeste die moeite werd is?
Jy gaan waar die skare is en daar is baie voetverkeer vir my mark.
Hoe lyk ’n tipiese dag?
Ek los alles net so, dis te veel werk om alles te beweeg. As ons klaar is, pak ek dit by my fabriek uit. Ek doen al die Kersmarkte en my volgende mark is nog ’n uitpakmark in Pretoria.
Hoe weet jy of die geleentheid finansieel die moeite werd is?
Aanvanklik was dit nie, maar dit is winsgewend. Dit was as gevolg van die omstandighede, inflasie en die brandstofpryse. Die dametjie wat my begin help het, het haar pryse baie hoog gemaak, wat my baie geknak het. Toe het ek begin om myself te voorsien, en toe het dit beter geraak.
Wat doen die organiseerders om julle te ondersteun?
Jy is maar op jou eie. Jy moet jou eie Facebook-blad en webwerf maak. Ons maak ook gebruik van julle Aardklop, dan kan julle volgers ons gaan volg.
Watter raad sal jy gee aan iemand wat nou wil begin?
Jy moet ’n passie hê vir wat jy doen, want as jy nie ’n passie het daarvoor nie, dan sal dit nie suksesvol wees nie.
Marietjie van Tonder, Geskaaf met Liefde
Hoe het jy jou besigheid begin?
Ons het by iemand hout gekry wat behoorlik geskaafde hout was. Die persoon het net gesê hy is moeg en kan nie meer hiermee aangaan nie, en ’n rukkie daarna is hy oorlede. Ons het toe hierdie krat hout gaan haal, en dis waar “Geskaaf met Liefde” vandaan kom. Ons eerste hout was nie van onsself nie, en ’n vriend van ons het ’n stoor by iemand gekoop. So ons het twee mense wat ’n groot bydrae tot ons eerste begin gelewer het.
Dink jy dat julle ander feeste sal wil bywoon, aangesien dit julle eerste is?
Ja, ek dink tog mens kan kyk waarvoor jy geskik is en watter tipe mark jy soek, en dan na ander feeste gaan.
Sal jy sê, aangesien hierdie julle eerste is, dat dit winsgewend is?
Vir my was dit so winsgewend. Ons is regtig so geseën, en ek weet dis net die genade van ons liewe Vader daarbo, anders sou ons dit nie kon doen nie.
En wat was ’n struikelblok wat julle ervaar het?
Om te weet wat genoeg voorraad is. Hoe weet ek wat nodig is en hoeveel ’n mens moet vat vir die hele week? Dit was my grootste struikelblok: wat is die regte hoeveelheid?



