Ricardo Fourie, die uitstekende flank van vanjaar se NWU Eagles Varsitybeker-span, was die groot wenner by gisteraand (Woensdag, 7 Oktober) se 2026 NWU Rugbyinstituut-toekenningsfunksie.
Fourie is as die Speler van die Jaar aangewys en is met die gesogte Johan Claassen-trofee bekroon.
Hy het ook die Spelers se Speler van die Jaar-toekenning verower en is vir sy opwindende spel vereer.
“Ek voel baie geëerd om die pryse vanaand te wen. Ek wil net dankie sê aan almal wat vir my gestem het, aan al die spelers en afrigters wat my ondersteun het. Dit was ’n onvergeetlike seisoen saam met die span,” noem Fourie, wat tans ’n gekontrakteerde Luiperds-rugbyspeler is.
Die talentvolle loskopstut, Alethwa Buthelezi, is as die Voorspeler van die Jaar aangewys. Matthew Fortuin is as die Agterspeler van die Jaar bekroon. Sy goeie seisoen het vir hom ’n plek by die Sharks oopgekerf.






Die NWU Rugbyinstituut-bestuurder, Mervyn Taylor, het in sy toespraak genoem dat die NWU Rugbyinstituut juis sukses behaal op verskillende vlakke rakende die spelers wat hulle vir professionele rugby oplewer, sowel as die konsekwente sukses wat jaar na jaar ook by die Varsitybeker en ander klubkompetisies behaal word.
Taylor is toe ook met ’n spesiale toekenning van die Rugbyinstituut se kant af verras vir die sukses wat hy behaal en die groot rol wat hy speel.
Dit was ’n emosionele oomblik waar Taylor vereer is vir sy getroue diens aan die Rugbyinstituut.

Ander pryswenners op die aand sluit onder andere in Stephan Krugel (Varsitybeker Speler van die Jaar), Hesrie van Wyk (Vroue Sewesspeler van die Jaar), Zack Serfontein (Klubman van die Jaar) sowel as Jason Oosthuizen (Speler wat die meeste verbeter het).
Adrian Freemantle is as die o19 Speler van die Jaar aangewys, terwyl GJ Steenberg die o21 Speler van die Jaar titel verkry het.



