Local newsNewsNews

Polisie en boer trek verdagtes vas ná bees gesteel en geslag is

Twee mans en ’n vrou van Zimbabwiese afkoms is ná ’n gesamentlike polisie-optrede in hegtenis geneem.

’n Boer het danksy sekuriteitskameras en die spoedige reaksie van die polisie daarin geslaag om die oorskot van sy gesteelde bees op te spoor en die verdagtes vas te trek.

Ro’an van Tonder, ’n beesboer op ’n plaas langs die Schoemansdriftpad, vertel dat sekuriteitskameras van Belrex beeldmateriaal van ’n verdagte voertuig opgemerk het. Mense is volgens die beeldmateriaal omstreeks middernag op Sondagoggend (11 Oktober) afgelaai en omstreeks 02:30 weer opgelaai.

“Ons kon danksy die kameras inligting kry wat ons Maandag (12 Oktober) na ’n adres in Ikageng geneem het. Die eienaar van die motor het die kar vir iemand anders geleen. Die bestuurder van die kar het genoem dat hy ’n Uber-bestuurder van Johannesburg is. Ek het vir die polisievrou genoem dat hy jok. Die eienaar het toe na sy opsporingstoestel gekyk en gesien dat die kar in Sol Plaatjiestraat, naby die taxistaanplek, is,” vertel Van Tonder.

Die polisie se Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid, Taktiese Reaksiespan en Blitspatrollie het aan die operasie deelgeneem en die motor opgespoor.

Volgens Van Tonder was die kattebak van die voertuig silwerskoon gewas.

Die opgesnyde karkas wat by die verdagtes in koelbokse verkry is. Foto: SAPD

“Die verdagte het ná ondervraging vertel wat gebeur het en ons na die ander verdagtes geneem. Daar is byle en vleis gevind. Die polisie het na ondervraging van plek na plek beweeg om al die verdagtes op drie afsonderlike plekke te arresteer.” sê hy.

Volgens kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, is ’n saak van veediefstal Maandagoggend by die polisie aangemeld. Twee mans en ’n vrou van Zimbabwiese afkoms is ná ’n gesamentlike polisie-optrede in hegtenis geneem.

Volgens Myburgh is die verdagtes in die Wilgeboom-omgewing vasgekeer. Die voertuig wat gebruik is om die beesvleis, bene en ingewande te vervoer, was ’n Volkswagen Polo Vivo.

Van Tonder het sy dank teenoor die polisie uitgespreek vir hul optrede.

“Ek is dankbaar vir die polisie. Almal van forensies tot die blitspatrollie het almal professioneel saamgewerk. As iets gebeur, meld dit aan,” sê hy.

Nog dele van Ro’an van Tonder se bees wat opgespoor is.

Hy het spesifiek vir adjudant offisier Chris Stemmet bedank vir sy rol in die operasie.

“Adjudant offisier Chris Stemmet het ’n groot rol gespeel om die operasie te aktiveer wat tot die arrestasies gelei het,” sê Van Tonder.

Hy het ook vir sers. F.M. Maganda, sers. J.G. Mooketsi, sers. B.E. Seitshiro, ao. L. Maloi, ao. M.J. Mapheto, konst. M.C. Pela en sers. K.J. Moruri bedank.

Volgens Myburgh sal die verdagtes op Woensdag 14 Oktober in die Potchefstroomse landdroshof verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button