Local newsNewsNews

Van Potchefstroom tot die wêreld se skaakborde

Op slegs 18-jarige ouderdom het dié Potchefstroomse skaaktalent reeds ’n indrukwekkende plek op die internasionale skaaktoneel verwerf.

Vir die meeste mense is skaak ’n spel van swart en wit blokkies, maar vir Dewald Coetsee is dit ’n wêreld van eindelose moontlikhede, uitdagings en drome wat hy vasbeslote is om na te jaag.

Op slegs 18-jarige ouderdom het dié Potchefstroomse skaaktalent reeds ’n indrukwekkende plek op die internasionale skaaktoneel verwerf. Dewald is tans die vyfde beste o/20-skaakspeler in Suid-Afrika en beklee ’n indrukwekkende 98ste plek op die wêreldranglys.

Van sy eerste skaakbewegings in graad 1 tot die wêreldkampioenskappe in Italië, is sy verhaal een van deursettingsvermoë, harde werk en die moed om groot te droom.

Foto: Annika Smith Fotografie

Dewald is in Klerksdorp gebore, maar het sy hele lewe in Potchefstroom deurgebring en hier grootgeword. Hy het vanjaar matriek aan Potchefstroom Gimnasium voltooi, maar sy liefde vir skaak het reeds lank voor sy hoërskooldae begin.

“Ek wou al op sesjarige ouderdom begin skaak speel het, maar my ouers het gesê ek moet wag totdat ek skool toe gaan,” vertel Dewald.

Hy het uiteindelik in graad 1 begin skaak speel en sy talent het met elke jaar wat verbygegaan het, verder ontwikkel.

In 2022, toe hy in graad 8 was, het Dewald derde geëindig in die aanlyn Suid-Afrikaanse o/14-kampioenskappe. Dié prestasie het hom sy Protea-kleure besorg en die eerste groot tree gegee op ’n pad wat hom na internasionale kompetisies sou neem.

In 2023 het hy Nederland besoek om aan die Wêreld Jeug-olimpiade o/16 deel te neem, waarna hy in 2024 in die Afrika Jeugkampioenskappe o/16 meegeding het.

Foto: Annika Smith Fotografie

Vanjaar het hy sy indrukwekkende skaakloopbaan verder uitgebou toe hy eerste geëindig het by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Rustenburg. Dié prestasie het hom ook die geleentheid gebied om Suid-Afrika by die Wêreld Jeugkampioenskappe o/18 in Italië te verteenwoordig.

Dit was daar waar Dewald gewys het dat hy nie maklik terugstaan voor ’n uitdaging nie.

Dit is ’n bewys van die konsentrasie, geduld en vasberadenheid wat nodig is om op die hoogste vlak mee te ding.

Dewald skryf sy sukses nie net aan sy eie harde werk toe nie, maar ook aan die mense wat hom deur die jare ondersteun het.

Hy bedank veral prof. Johan Steenkamp van die Noordwes-Universiteit, sy skaakafrigter, asook sy ouers vir hul liefde en ondersteuning.

As die jongste van drie kinders, met ’n ouer broer en suster, het Dewald ’n sterk ondersteuningsnetwerk agter hom wat hom help om sy drome na te jaag.

Hoewel skaak ’n groot deel van sy lewe uitmaak, is daar ook plek vir ander belangstellings. Hy geniet sport en kuier graag saam met sy vriende.

Volgende jaar begin ’n nuwe hoofstuk wanneer hy aan die Noordwes-Universiteit (NWU) Aktuariële Wetenskap studeer. Hy beplan om steeds vir die universiteit skaak te speel, maar sal voorlopig op groter en plaaslike toernooie fokus terwyl hy sy studies aanpak.

Sy droom is egter nog lank nie klaar nie.

Ná sy studies wil Dewald vir ’n jaar of twee probeer om professioneel skaak te speel. Hy wil graag ontdek hoe ver hy met die spel kan gaan en watter hoogtes hy kan bereik.

“Ek wil kyk hoe ver ek met skaak kan gaan. Ek wil weet wat my limiete is en nie eendag spyt wees dat ek dit nie nagejaag het nie,” sê hy.

Dit is dié ingesteldheid wat Dewald se verhaal so inspirerend maak. Hy is nie net tevrede met wat hy reeds bereik het nie, maar is bereid om verder te werk, nuwe uitdagings aan te pak en te ontdek waartoe hy werklik in staat is.

Vir ’n jong man wat sy eerste skaakbewegings as sesjarige wou maak, het die wêreld reeds ’n groot speelveld geword.

En met sy talent, vasberadenheid en die ondersteuning van die mense om hom, is dit duidelik dat Dewald Coetsee se skaakverhaal nog baie hoofstukke het om te skryf.

Kyk n die video hier:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button