Violis se melodie vloei voort ná 40 jaar by NWU
40 jaar as viooldosent by die NWU, optredes in verskeie lande en opleiding by Julliard in New York. Piet Koornhof het diep spore getrap met sy liefde vir musiek.
Strelende en gesofistikeerde klanke vloei uit die Boris Sverdlik-viool van Piet Koornhof, terwyl hy met verskillende drukke en subtiele bewegings sy strykstok hanteer.
Vioolspel is onlosmaaklik deel van hierdie bekende plaaslike violis en musiekdosent se lewe. Ná 40 jaar se verbintenis aan die NWU neem hy nou afskeid van hierdie instelling.
Hoewel hy sy vier dekades by die NWU Musiekskool afsluit, gaan hy voort om sy liefde vir vioolspel uit te leef en verdere hoofstukke in sy lewe te skryf – en watter interessante verhaal is dit nie alreeds nie.
Piet was deel van die destydse nasionale jeugorkes, het sy musiekopleiding aan die wêreldbekende Juilliard School in New York ontvang en in talle lande, waaronder Rusland, Italië, Singapoer, Engeland, Skotland en Nieu-Seeland, opgetree.

“My ouers was albei musikaal”
Dit is geen verrassing dat Piet ook ‘n musikale rigting ingeslaan het nie. Sy ouers, Gerhard “Korie” en Martie, was albei by musiek betrokke en het ‘n groot liefde daarvoor gehad.
Piet het op vyf en ‘n halfjarige ouderdom, in 1966, met musieklesse by Susan Sauerman begin. Op negejarige ouderdom het hy sy konsertdebuut gemaak en later Suid-Afrika as solis saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes op toere na Europa en Israel verteenwoordig.
“Dit was ongelooflik om as jong kind daardie ervaring te kon hê. My ouers was saam, aangesien hulle die toerleiers was,” onthou hy.
“Omdat dit tydens apartheid plaasgevind het, het ons ook ‘n bomdreigement in Aberdeen in Skotland ontvang. Ons moes toe die saal vir twee uur ontruim. Daar is toe niks gevind nie en ons kon die konsert verder opvoer.”

Juilliard se deure gaan oop
Piet het sy laerskoolloopbaan by Laerskool President Pretorius in Potchefstroom voltooi, voordat hy graad 8 en 9 by Potchefstroom Gimnasium deurgebring het. Hy het daarna ‘n wonderlike geleentheid ontvang om met behulp van ‘n musiekbeurs sy hoërskoolopleiding aan Scarsdale High School in New York, Verenigde State, te voltooi – ‘n ervaring wat hy besonder geniet het.
Koornhof het sy studies aan die gesogte Juilliard School in New York voortgesit, waar hy onder die bekende vioolpedagoog Dorothy DeLay studeer het.
Sy pad na Juilliard is onder meer beïnvloed deur bekende musiekfigure soos die dirigent Claudio Abbado, wat gehelp het om deure vir hom oop te maak. Hy het ook waardevolle blootstelling aan musikante soos dirigent Alberto Bolet en die legendariese violis Pinchas Zukerman gehad.
“Dit was ‘n besonder uitdagende ervaring, aangesien ek myself tussen van die wêreld se talentvolste jong musikante bevind het. Die hoë standaard het beteken dat studente voortdurend moes verbeter om by die omgewing aan te pas. Dit het my gedryf om ‘n beter violis te wees.”

NWU skep meer as net ‘n werksgeleentheid
Piet se pad het hom uiteindelik weer huiswaarts gebring, waar hy die geleentheid gekry het om deel van die destydse PU vir CHO se musiekdepartement te word. Dit was destyds die enigste beskikbare vioolpos in die land – ‘n pos waarin hy hom vir die volgende 40 jaar sou vestig.
Wat vir Piet veral uitstaan van sy tyd by die NWU, is dat hy steeds sy passie vir musiek kon uitleef terwyl hy doseer en talle studente help om groot hoogtes te bereik het.
Interessant genoeg het die NWU ook ‘n groot rol gespeel om hom aan sy lewensmaat bekend te stel. Hy het sy vrou, Esmie, ‘n besonder begaafde vioolstudent, ontmoet aangesien sy by hom klas gehad het. Dit was natuurlik aanvanklik ‘n uitdaging, aangesien hy nie die student-dosent-verhouding wou oorskry nie.
“Henk Temmingh, wat destyds hoof van die musiekdepartement in Potchefstroom was, het my aangemoedig om met haar te gaan gesels. Hy het gesê ek sou ‘n bloody fool wees as ek nie met haar trou nie,” glimlag hy.
Esmie is tans ‘n onderwyseres by Laerskool Mooirivier. Hulle het drie kinders, Gerhard, Hannes en Elrie.

Kamermusiekoptredes in verskeie lande
Gedurende sy tyd as dosent het Piet hom as ‘n gerekende violis, kamermusikant en akademikus gevestig. Koornhof het as solis saam met orkeste opgetree en talle uitvoerings as kamermusikant aangebied.
Onder die hoogtepunte van sy internasionale optredes tel ‘n uitgebreide toer deur Rusland in 1994 saam met die pianis Vladimir Yurigin-Klevke. Hy was die eerste Suid-Afrikaner wat so ‘n toer onderneem het en het onder meer by die Moskou-konservatorium opgetree.
“Die tye saam met die Italiaanse fluitspeler Raffaele Trevisani was baie lekker, maar ook humoristies. Hy het die Russe behoorlik op hul tone gehou met sy persoonlikheid. Ek en hy is steeds goeie vriende.”
In 1999 het hy ook as lid van die Potch Trio, saam met Human Coetzee (tjello) en Albie van Schalkwyk (klavier), aan die Palaces of St. Petersburg International Chamber Music Festival deelgeneem. Hulle het ook saam met die Moscow Chamber Orchestra in Moskou en Sint Petersburg opgetree.
“Dit was ongelooflik om deel daarvan te kon wees, Rusland te kon beleef en saam met werklik talentvolle musikante musiek te kon maak,” vertel Piet, wat Maurice Ravel as een van sy gunsteling kompniste beskou.
Een van Piet se grootste bydraes tot Suid-Afrikaanse musiek was sy bevordering van minder bekende, maar toeganklike kamermusiek uit die 20ste en 21ste eeu. Hy was verantwoordelik vir die eerste Suid-Afrikaanse uitvoerings van werke deur verskeie internasionale komponiste, waaronder Alfred Schnittke, Arvo Pärt, Pēteris Vasks, Astor Piazzolla en Paul Schoenfield. Sy werk as uitvoerder is ook in verskeie internasionaal bekroonde CD-opnames vasgelê.

By die NWU het hy viool, altviool, kamermusiek en die metodiek van vioolonderrig op voorgraadse en nagraadse vlak aangebied. Hy beskik oor ‘n doktorsgraad in musiekuitvoering.
“Ek wil graag aanhou speel solank ek fisies daartoe in staat is. Ek sien hierdie nuwe fase nie as die einde van my loopbaan nie, maar eerder as ‘n geleentheid om meer tyd te wy aan dit waarvoor ek lief is – juis die uitvoering van musiek. Viool is dinamies met ‘n groot repertoire. Dit vereis baie, maar verskaf ontsettende plesier.”



