CommunityLocal newsNews

NWU gereed om duisende nuwe studente in 2026 te verwelkom

Met helder oë en groot drome sal NWU se eerstejaarstudente hul universiteitslewe binnekort binne stap.

Registrasie vir eerstejaars aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is steeds in volle swang, maar een ding is reeds duidelik, die belangstelling in die instelling bly besonder sterk.

Volgens NWU-woordvoerder Louis Jacobs is dit nog te vroeg om ’n finale getal vir eerstejaarinskrywings bekend te maak, aangesien registrasie nog aan die gang is. Tog is dié universiteit vol vertroue dat sy teiken bereik sal word.

“Soos gekommunikeer, kan ons 11 800 eerstejaars akkommodeer en daar is geen twyfel dat ons die teiken sal haal nie, aangesien duisende studente reeds weggewys moes word,” sê Jacobs.

Die hoë aanvraag het daartoe gelei dat geen sogenaamde “walk-in”-navrae of laat aansoeke tydens die registrasieperiode toegelaat word nie. ’n Aanduiding van die druk op beskikbare plekke en die universiteit se streng toelatingsprosesse.

Warm verwelkoming oor drie kampusse

Die NWU is reeds volstoom besig om voor te berei vir die aankoms van die nuwe groep studente. Verwelkomingsaktiwiteite vir eerstejaars op die universiteit se drie kampusse vind op 31 Januarie plaas, terwyl die amptelike institusionele ontvangs op 7 Februarie geskeduleer is.

“Klasse vir beide eerstejaars en seniors begin op 9 Februarie,” verduidelik Jacobs.

Nuwe studente begin reeds vanaf 29 Januarie om hul plekke in koshuise in te neem, waarna die oriënteringsprogram afskop, ’n belangrike stap om studente akademies én sosiaal voor te berei vir universiteitslewe.

Topstudente van regoor die land

Soos in vorige jare het die NWU weer eens topstudente van regoor Suid-Afrika gelok.

“Hierdie studente het gekies om die NWU hul tuiste vir die volgende paar jaar te maak,” sê Jacobs. “Ons sien daarna uit om vir hulle dieselfde hoë gehalte studente-ervaring te bied waarvoor die NWU bekend is.”

Hy voeg by dat die universiteit se fokus steeds daarop is om goed afgeronde, veerkragtige en verantwoordelike graduandi die wêreld in te stuur.

“Dit is waarvoor die NWU bekend is, om studente toe te rus wat akademies sterk is, maar ook gereed is vir die eise van die samelewing.”

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vat die voortou

Wat fakulteite betref, word die grootste aantal eerstejaar-toelatings vanjaar in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe verwag, gevolg deur die Fakulteit Opvoedkunde.

Met duisende jongmense wat gereed maak om hul akademiese reis te begin, lyk 2026 reeds na nóg ’n besige, maar belowende jaar vir die Noordwes-Universiteit.

“Ons sien opreg daarna uit om hierdie nuwe groep studente te verwelkom,” sê Jacobs.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button