Om studente te beskerm is hulle prioriteit
Hierdie oë in die nag maak ‘n tasbare verskil, al besef min mense hoe fyn hulle dopgehou en beskerm word.
Daar is ‘n wêreld wat eers wakker word wanneer die son sak, ‘n wêreld van flikkerende straatligte, studente wat laggend huis toe stap, en skaduwees wat soms meer wegsteek as wat hulle wys. Dit is in hierdie wêreld waar Mooirivier Beskerming, gemagtigde sekuriteitsdiensverskaffer vir Cachet Park Verbeteringsdistrik (CID), hul werk doen. Stil, gefokus, en onverpoos.
Op 25 April het ‘n joernalis van Potchefstroom Herald die voorreg gehad om saam met hierdie span die strate van die Bult in te vaar. Wat op die oog af soos ‘n gewone aand lyk, ontvou gou in ‘n reeks uitdagings wat min mense ooit sien, maar wat daagliks deur hierdie beamptes hanteer word.
Alhoewel studenteveiligheid die kern van hul werk is, strek hul verantwoordelikhede veel verder. Oop hekke. Alarms wat onverwags gil. Vreemde figure wat in donker strate rondsluip. Dit is ‘n konstante waaksaamheid, ‘n ritme van optree, voorkom en beskerm.
Mooirivier Beskerming is nie net ‘n sekuriteitsmaatskappy nie. Hulle is ‘n goedgeoliede stelsel van gewapende reaksie, wagte op die grond en ‘n indrukwekkende netwerk van CCTV-monitering wat dag en nag waak. Tog bly hul werk vir baie onsigbaar, totdat jy self sien wat werklik in die strate gebeur.
En dit is nie altyd mooi nie.

Van motors wat roekeloos jaag en tol, tot studente wat baklei, dronk is of selfs gespike word. Jongmense wat in die middel van die nag huis toe stap, sommige ná ‘n aand uit, ander ná ure se studeer. Straatligte wat nie werk nie. Misdadigers wat wag vir ‘n geleentheid. Selfoondiewe, swendelaars, en onwettige handel wat stilweg sy kop uitsteek. Dit is die realiteit waarmee hierdie beamptes elke aand werk.
“Voorkoming is altyd beter as reaksie. Studenteveiligheid bly ons nommer een prioriteit,” sê Klaas Meyer, wat al ses jaar lank deel is van die Mooirivier-span.
Gedurende die aand het ‘n insident van ‘n student wat vermoedelik gespike is, vinnig handuit geruk. Beamptes moes onmiddellik intree. Dit was ‘n gespanne en emosionele situasie, maar met kalmte, professionaliteit en empatie het hulle die toneel onder beheer gebring en seker gemaak dat die betrokke groep meisies veilig by hul woonplek aankom.
Wat egter opgeval het, was nie net die aard van die insident nie, maar ook hoe beamptes soms behandel word. Ten spyte van uitdagende omstandighede en min erkenning, bly hul optrede respekvol en professioneel. Dit is ‘n stille krag wat nie maklik raakgesien word nie.
Die Bult bly ‘n bekende hot spot, veral vir voertuig-diefstal, met Hilux-bakkies wat gereeld geteiken word. Daar is ook ‘n konstante stroom van voertuie wat die area binnekom met die doel om onwettige middels te versprei.
Tog staan Mooirivier se span paraat. Met ‘n netwerk van sowat 1927 kameras wat nie net die Bult nie, maar ook groot dele van Potchefstroom monitor, word talle insidente vasgevang. Van ongelukke tot aanrandings.
Hierdie oë in die nag maak ‘n tasbare verskil, al besef min mense hoe fyn hulle dopgehou en beskerm word. En wanneer die klubs om 03:00 sluit, begin die werklike werk. Dit is dan wanneer die strate vul met studente, ‘n miernes van beweging, gelag en kwesbaarheid. En tussen dit alles beweeg Mooirivier se beamptes, om seker te maak elkeen kom veilig by die huis.
Tom Minshaw, reaksiebestuurder by Mooirivier Beskerming sê die Bult het sy eie unieke uitdagings en beamptes moet altyd op die uitkyk wees vir die onmoontlike.
“Op die Bult veral, maar nie uitsluitlik tot die Bult nie, ervaar ons dat meer opportunistiese misdaad kop uit steek, so ons vra inwoners en veral studente in die area om meer waaksaam te wees teen misdadigers.”

Hulle werk is nie glansryk nie. Dit is nie altyd dankbaar nie. Maar dit is noodsaaklik. Mooirivier Beskerming is meer as net sekuriteit. Hulle is beskermers van ‘n gemeenskap. Hulle is die rede waarom ouers saans ‘n bietjie rustiger slaap. Hulle is die hand wat intree wanneer dinge skeefloop. En dalk, net dalk, is dit tyd dat hulle die erkenning en respek kry wat hulle elke dag verdien.
Leandro de Beer, bestuurder van die CID, sê hy is besonders trots op die span.
“Ek is besonder trots op ons operasionele span, insluitend ons diensverskaffer, Mooirivier Beskerming, wat onder dikwels uitdagende omstandighede konsekwent professioneel, kalm en met empatie optree. Die tipe insidente waarna verwys word in die berig, beklemtoon presies hoekom ‘n geïntegreerde publieke veiligheidsbenadering noodsaaklik is,” sê hy.

“Hierdie werk kan nie in isolasie gedoen word nie. Ons sukses is afhanklik van samewerking met sleutelrolspelers soos die Noordwes-Universiteit, SAPD, JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, Wyk-kommitees, gemeenskapslede en besighede binne die CID-gebied. Publieke veiligheid is ‘n gedeelde verantwoordelikheid.”
Kyk na die video hier:



