Tokkies vier geloof, glimlagte en groot avonture
By Laerskool Mooirivier leef die hart van ’n ware Tokkie, waar elke dag ’n geleentheid is om te groei, te glo en te glimlag.
Laerskool Mooirivier het die afgelope week weer bewys dat dit nie net ’n plek van leer is nie, maar ’n plek waar geloof, pret en kreatiwiteit hand aan hand stap.
Tokkies vier Hemelvaart
Die Tokkie-familie het Hemelvaart met ’n oomblik van stilword en dankbaarheid herdenk, ’n dag wat herinner dat niemand ooit alleen is nie en dat daar altyd hoop, genade en liefde gevind kan word. Soos geskryf staan: “Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” Met hierdie boodskap het die skoolgemeenskap saamgestaan in geloof en vrede.

Verlore Boskop Seekoei by Mooirivier
Maar dit was nie net ’n week van refleksie nie , dit was ook een vol pret en verbeelding! Die “verlore Boskop Seekoei” het glo sy draai by Mooirivier gemaak, waar hy nie net saam met die kinders aan somme gewerk het nie, maar ook sy merk gelaat het by die snoepie. Volgens ooggetuies het hy die skool verlaat met ’n vol magie, nuwe vriende en dalk selfs ’n huiswerkboek onder die arm. ’n Besoek wat beslis nog lank oor gepraat sal word!

Graad 5’s wys kreatiwiteit
Intussen het die Graad 5-leerders hul kreatiwiteit behoorlik losgelaat tydens hul Tokkie Akademie-aktiwiteite. Met stokkies, verbeelding en ’n goeie dosis probleemoplossing het hulle indrukwekkende meetkundige patrone gebou. Dit was ’n duidelike bewys dat leer by Mooirivier nie net oor kennis gaan nie, maar ook oor ontdek, skep en pret hê.




