Volkies en Gimmies se gees loop hoog op die verhoog
Deur die week bly die atmosfeer elektries, met opwinding wat toeneem namate die hoogtepunte nader kom.
Die jaarlikse Volkie-Gimmie week tussen Hoër Volkskool en Potchefstroom Gimnasium het op ’n hoë noot afgeskop, met leerders en personeel wat reeds van die eerste dag af hul gees en trots ten toon stel.
Die afskop is gekenmerk deur ’n inspirerende boodskap van motiveringspreker Jannie Putter, wat leerders daaraan herinner het dat elke leerder behoort en ’n betekenisvolle impak kan maak. Met dié boodskap vars in die geheue, het die week se verrigtinge momentum gekry.
Maandagaand se eerste kunsbyeenkoms het die toon aangegee vir wat voorlê. Hoewel dit nie as ’n kompetisie aangebied is nie, het leerders van beide skole hul talente in goeie gees gedeel. Van sang en gedigte tot klavieruitvoerings. Die aand, wat by Hoër Volkskool aangebied is, het gefokus op die viering van kuns, kultuur en die unieke gawes van elke leerder.


Die geesweek self het Maandag afgeskop met tema waarvolgens almal kan aantrek. Die week se temas sluit onder meer in “Teenage Dirtbag/Tronk”, filmkarakters, ’n pajamadag en kreatiewe uitrustings gebaseer op die eerste letter van leerders se name.
Deur die week bly die atmosfeer elektries, met opwinding wat toeneem namate die hoogtepunte nader kom.
Donderdag vind die gewilde gholfdag plaas, ’n tradisie wat reeds jare lank deur die Dienssentrum aangebied word. Meer as 160 oud-leerders van beide skole sal die baan aandurf in ’n vriendskaplike, maar mededingende gees.
Donderdagaand skuif die fokus na die rolbalbaan, waar personeel van Hoër Volkskool en Potchefstroom Gimnasium kragte meet, uiteraard alles in goeie gees.

Die amptelike sportverrigtinge begin Vrydag, met netbal-, rugby- en hokkiewedstryde wat beloof om skares te lok. Vanjaar tree Hoër Volkskool as gasheerskool op, met alle wedstryde wat op hul terrein plaasvind.
Met die tafel wat reeds gedek is vir ’n week vol energie, pret en trots, is dit duidelik: die Volkie-Gimmie week is nog net aan die begin, en die beste lê nog voor.



