Wendy Maartens betower Baillies-leerders
Met groot opgewondenheid het die kinders geluister toe Wendy vertel hoe baie van haar stories eintlik gegrond is op ware gebeure.
Daar is min mense wat ‘n vertrek só kan stil maak soos iemand wat regtig lief is vir stories. En dit is presies wat gebeur het toe Wendy Maartens op Donderdag 21 Mei vir Laerskool Baillie Park besoek het.
Die bekroonde kinderboekskrywer en joernalis, wat haar dae vul met woorde, stories en verwondering, het leerders op ‘n besonderse reis geneem deur haar wêreld van Jakkals, Wolf en die klein oomblikke wat groot stories word.
Wendy, wat in Worcester grootgeword en haar skoolloopbaan in George voltooi het, woon deesdae saam met haar geliefde kat in Kleinmond. Sy het vir 22 jaar as grondslagfase-onderwyseres vir graad 3-leerders gewerk, iets wat duidelik sigbaar is in die gemak waarmee sy met kinders gesels en hulle aandag vasvang.
Met groot opgewondenheid het die kinders geluister toe Wendy vertel hoe baie van haar stories eintlik gegrond is op ware gebeure uit haar eie lewe. Sy is veral bekend vir haar geliefde stories oor die twee karnallies, Jakkals en Wolf, wat reeds talle jong lesers laat skaterlag het.
Maar dit was nie net die stories wat die leerders betower het nie. Wendy het ook vertel van die voëltjies wat haar elke oggend wakker maak, haar liefde vir tuinmaak, bokkoms, vye, tuisgebakte brood en om kaalvoet deur die lewe te stap, die soort eenvoudige dinge wat mens sommer warm van binne laat voel.
Na afloop van die besoek het die kinders die geleentheid gekry om met Wendy te gesels, vrae te vra en boeke wat hulle gekoop het deur haar te laat teken.
Vir Baillies was die besoek van hierdie besondere skrywer beslis een vir die boeke, en die skool sien reeds uit daarna om haar weer in die toekoms terug te verwelkom.



