Op patrollie in Potch
Dit is nie noodwendig die volmaan wat mense bietjie mal maak nie. Dalk is dit die alkohol op ’n Saterdagaand of dalk net dié tyd van die jaar. Maar een ding is seker, op die mees onlangse patrollie waar ek saam met Mooirivier Beskerming was, was daar sommer baie geweld.
Dit is nie noodwendig die volmaan wat mense bietjie mal maak nie.
Dalk is dit die alkohol op ’n Saterdagaand of dalk net dié tyd van die jaar. Maar een ding is seker, op die mees onlangse patrollie waar ek saam met Mooirivier Beskerming was, was daar sommer baie geweld.
Inbraakgewys was dit egter nog stil. Wanneer al die studente weg is vir die vakansie en ander inwoners ook vakansie begin neem, dan blom die inbrake in Potchefstroom.
Die eerste aksie vir die aand kom oor die radio, twee mans het baklei by ’n huis in Ikageng. ER24 se ligte gaan aan en hulle jaag daarheen.
“Met so ‘n situasie staan ons gewoonlik vir ER24 by omdat dit vinnig kan handuit ruk,” vertel Christiaan van Mooirivier Beskerming.
Ons kom by die huis aan, die straat is vol mense en dit gons oor die gebeure. ’n Onderonsie tussen twee mans oor parkering het in ’n geveg ontaard, waarna een van die mans die ander met ’n gholfstok geslaan het.
Die wond is diep en paramedici vermoed dat die skedel gekraak is. Gelukkig is die man se buurvrou ’n matrone by Potchefstroom-hospitaal en sy behandel die wond so ver soos sy kan voor die man hospitaal toe geneem word. Almal met wie ons praat ruik na drank. ER24 is nog met dié pasiënt op pad hospitaal toe, toe spring die radio weer aan die lewe. Daar was nog ’n geveg by ’n vulstasie in die Suid-dorp. Paramedici moet kom help, die man bloei erg.
Op die toneel staan ’n man wat skree en huil gelyk. Bloed en trane stroom by sy gesig af. Nadat die man gekalmeer is, kan hy begin om behandeling te ontvang.
Volgens die mense op die toneel gaan die bakleiery oor ’n vrou wat saam met ’n ander man by ’n kroeg uitgekom het, waarna hy hulle gevolg het tot by die vulstasie. Bottels en klippe was die wapens tydens die geveg.
Wanneer die drank vloei, vloei die bloed gewoonlik ook.
Nie al die aksie was gewelddadig nie, maar was nie minder kommerwekkend nie. Die laaste draai voor ons gaan slaap het, was ongeveer 02:00 toe ons verby ’n bekende dwelmhuis gery het. Snaaks om ’n jong blonde meisie te sien wat daar in die straat afbeweeg. Ons kom om die blok en sien haar motor daar staan, met, wat ons vermoed, haar kêrel in die kar. Die meisie kan nie ouer as 18 wees nie. Hulle sien die bakkie van Mooirivier Beskerming en jaag weg, vermoedelik sonder om dwelms te koop.
“Ons het nie die magte om mense voor te keer en te deursoek nie,” sê Christiaan. Die inligting kan maar net aan die polisie deurgegee word.