
Bekende sport rubriekskrywer Tank Lanning het op News24 voorgestel dat SA Rugby ’n “draft day” moet hê. Ek stem 110% saam met die waarneming.
Dié dag, soos gesien in Amerikaanse voetbal, is wanneer professionele spanne spelers kies uit ’n groep wat in aanmerking is vir die volgende stap in hulle sportloopbaan. Die meeste van die spelers in die groep is spelers wat hul studies aan die universiteit voltooi het. Die volgorde waarin die spanne kies, hang af van waar hulle die vorige jaar in die liga geëindig het. Die span wat laaste geëindig het, kry eerste kans om te kies en die span wat die beste gedoen het, kies laaste.
Die ‘draft’ hou vir sewe rondtes aan. Die spelers wat nie gekies word nie, word dan “free agents” wat ook deur die spanne gekontrakteer kan word.
Die salaris wat vir elke speler aangebied word, hang af van hoeveelste en in watter rondte die speler gekies word. So ’n speler wat heel eerste gekies word in die eerste rondte, sal in teorie meer kry as die speler wat derde of vierde gekies is.
Dit word so gedoen om die speelveld gelyk te maak tussen spanne. Dit keer dat een van die groter spanne soos die Bulle of Stormers met die ses beste slotte in die land sit. Dit gee ook die spelers ’n beter kans om te ontwikkel omdat hulle meer gereeld top liga- rugby speel. In teorie kan elke span dan ten minste sewe van die top jong talent in hulle span intrek. Die Varsity Cup en Varsity Shield het ’n goeie platform gebou vir die sisteem om te werk.
Wat ek glo hand aan hand gaan met die “draft” is die “salary cap.” Rugbyspanne in Engeland het ook al die idee aangeneem. Dit beteken bloot dat elke span net ’n sekere bedrag mag spandeer aan spelers se salarisse. Dit bring ook mee dat ryker spanne nie al die beste spelers kontrakteer bloot sodat hulle teenstanders nie die spelers kan gebruik nie.
Hierdie is bloot aspekte van ’n sisteem wat ons plaaslike rugby kan help verbeter en groei deur meer kompeterend te wees. Maar die feit dat daar weer gekyk moet word na hoe ons rugbysisteme funksioneer, is ’n onvermydelike feit.



