
Die privatisering van Suid-Afrika se rugbyspanne lyk of dit op die kaarte kan wees.
Volgens Rapport het Mark Alexander, president van SA Rugby, bevestig dat hulle besig is om na die moontlikheid van privatisering te kyk. Die verskillende opsies sal in Desember aan SA Rugby se algemene raad voorgelê word. Op die oomblik kan spanne net 49% privaat besit word. Die voorstel is glo dat soveel as 70% aan privaat eienaars beskikbaar gestel word.
Die vraag is nou wat beteken dit vir ’n betrokke span? En wat beteken dit vir die oorhoofse transformasie agenda wat so deur die minister van sport gedruk word?
Ek het die naweek die Gold Cup-finaal gekyk tussen Impala en Valsbaai. Behalwe dat dit goeie rugby was, het ek opgemerk dat die spanne witter is as enige van die professionele spanne.
Ek het met ’n paar manne gesels wat vir jare al betrokke is by verskillende klubs en die gevoel is dat, hoewel SA Rugby en die unies finansiële aansporing bied vir klubs wat transformasiesyfers bereik, is die syfers te hoog en die geld te min vir die klubs om regtig transformasie te jaag.
Wat ek sien op klubrugby vlak is dat die span en die spel eerste gestel word om die beste span te laat uitdraf. Klubrugby kan deesdae beskryf word as in privaatbesit. ’n Span soos Impala word vir alle praktiese doeleindes deur die myn besit. Ek het ook gerugte gehoor dat Brakpan rugbyklub elke jaar ’n klomp geld van ’n privaat persoon kry om die klub sterk te hou. Brakpan het in die halfeindstryd van die Gold Cup teen Impala verloor. In Engelse sokker is die meeste van die spanne in privaatbesit. Roman Abramovich wat Chelsea besit neem al die besluite. Hy het selfs destyds sy aanstaande skoonseun, Andriy Shevchenko, ten duurste gekontrakteer om vir die span te speel.
Dit maak die kans vir nepotisme groter, maar aan die ander kant is dit logies dat daar baie minder politieke inmenging moet wees by ’n span wat privaat besit word. Dalk is dit nie so ‘n slegte idee nie. Dan kan ondersteuners maak soos in Engeland waar hulle geld bymekaar gemaak het en ’n span gekoop het. Die ondersteuners het ’n uitvoerende raad opgestel en neem besluite rondom wat die beste is vir hulle geliefde span.
Ek sal aandele koop in die Luiperds as ek ’n sê kon hê oor hoe die span bestuur word.



