Puk student hardloop Switserland aan die brand
Dit sit nie in elke man se broek om die Switserse Alpe in ’n uitmergelende 42 kilometer wedloop uit te hardloop nie. Johardt van Heerden (22) is wel nie enige man nie en het as die jongste deelnemer in die Wêreld Langafstand veldwedloopkampioenskappe in Zermatt, Switserland ’n welverdiende 23ste plek uit 656 atlete behaal. Die …

Dit sit nie in elke man se broek om die Switserse Alpe in ’n uitmergelende 42 kilometer wedloop uit te hardloop nie. Johardt van Heerden (22) is wel nie enige man nie en het as die jongste deelnemer in die Wêreld Langafstand veldwedloopkampioenskappe in Zermatt, Switserland ’n welverdiende 23ste plek uit 656 atlete behaal.
Die NWU Pukke LL.B. Regte student kan as een van Suid-Afrika se jongste sterre beskou word wat landloop soos ons dit ken in ’n hele nuwe liga met sy prestasies plaas. Van Heerden en vier ander Suid-Afrikaners het ons land se naam op 4 Julie in dié vinnig groeiende sport hooggehou. Lucky Miya, Thabang Madiba, Karine Bezuidenhout en Megan MacKenzie was die ander SA atlete wat ook die wedloop trots voltooi het.
“Dit was ’n absolute avontuur wat ek verskriklik geniet het. Na die wedloop was ek so uitgeput en gedisoriënteerd dat ek eers behandel moes word. Ek was wel weer gou op die been en kon toe my prestasie geniet,” het Van Heerden gesê, wat vir die eerste keer oorsee deelgeneem het. Wat sy 23ste plek nog meer spesiaal maak is dat hy as amateuratleet teen professionele atlete van oral in die wêreld gekompeteer het en met sy lang asem en uithouvermoë geklop het.
“Ek moet sê ek het die bulte en lugdruk onderskat. Dit was yslik gewees om so te hardloop teen sulke steil opdraandes. Die Europeërs draf dit kaf asof dit geen moeite is nie!,” vertel Johardt meer oor sy ervaringe.
“Dit was verseker die moeilikste laaste 10 kilometer wat ek ooit in my lewe gehardloop het. My maag het my allerhande probleme gegee maar ek het vasgebyt. ’n Duitse atleet het my verbygesteek met nog ’n paar meter om te gaan maar ek het toe op die laaste afdraande genoeg spoed gehad om hom verby te steek,” dit was ’n goeie laaste paar meter,” onthou hy.
Van Heerden-hulle het in St Nicklaus afgeskop en vir die eerste 21 kilometer op teer gehardloop – iets waaraan hy as gevolg van sy baan agtergrond bekend mee was.
“Die atmosfeer was elektries en ek kon niet nie wag om te begin saam met die beste atlete in die wêreld nie. Dit was soos ’n droom wat op daardie oomblik waar geword het. My hart het baie vinnig geklop en ek het besluit dit is nou alles of niks.”
Hy was hoofsaaklik in die tweede bondel voorlopers en het gedurig in die top twintig gebly voordat die lang bulte in die tweede helfte van die wedloop sy moed effens laat sak het. “’n Mens hardloop op een bult op en dan sien jy daar is nog ’n groter bult wat in die verte vir jou wag. Iets wat wel gehelp het, was die ongelooflike ondersteuning van die mense wat met klokke en krete ons gedurig aangemoedig het,” noem hy.
“Dit raak baie moeilik omdat dit ongelooflik warm was en dan moet ’n mens aan die lugdruk gewoond raak. Dan het ’n mens se lyf nie nog ’n ses kilometer lang bult nodig nie. Dit is juis dan waar jy waardering kry vir jou eie wilskrag om te oorleef.
Die wedloop en die hele ervaring was ook verskriklik goed georganiseer met atlete wat uitstekende blyplek en gasvryheid gedurende die ekskursie gekry het.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring om iets nuuts te kon beleef. In Europa is daar ’n groot fokus op buitelugaktiwiteite en daar is ’n groot buitelugkultuur.
Ek het ook lekker met ’n klomp atlete gesels waar ons oefenprogramme, ervaringe en nog meer gedeel het. Dit motiveer my net om nog harder te werk om volgende jaar ’n top 20 posisie te behaal. Ek weet nou wat om te verwag,” vertel hy opgewonde.
Van Heerden se groot droom is om met borge aan die wedlope deel te neem en professioneel deel te neem. Hy glo ook dat hy oor vyf jaar ’n podiumposisie kan behaal mits hy hard werk en genoeg tyd kry tussendeur sy studies en toekomstige loopbaan in die regte.



