O.19 Luiperds oorwin teenstand in die Haaitenk
Die o.19 Luiperds het hulle eerste wen van die o.19 Absa kampioenskap behaal toe hulle ‘n opwindende 40-37 oorwinning teen die Haaie op Kings Park in Durban verlede Saterdag behaal het. Die jong manne van Potchefstroom het ses drieë gedruk met Henry Searle wat drie minute voor die eindfluitjie die laaste en belangrikste wendrie gaan …
Die o.19 Luiperds het hulle eerste wen van die o.19 Absa kampioenskap behaal toe hulle ‘n opwindende 40-37 oorwinning teen die Haaie op Kings Park in Durban verlede Saterdag behaal het. Die jong manne van Potchefstroom het ses drieë gedruk met Henry Searle wat drie minute voor die eindfluitjie die laaste en belangrikste wendrie gaan druk het.
Siyabonga Masuku het weer speelkans in die nommer 10 trui gekry en vir Tokkie Kasselman vervang na hul nederlaag teen die Leeus die vorige naweek. Dit was ‘n briljante spankeuse aangesien Masuku hom uitstekend van sy taak gekwyt het en ‘n paar belangrike strategiese skoppe sowel as een skepskop in die eerste minuut oorgetik het.
Om sy goeie vertoning te kroon het hy ook ‘n drie gedruk en dus op alle moontlike maniere punte vir sy span aangeteken. Zweli Silaule het die Luiperds se eerste drie gedruk maar die Haaie het goed op eie bodem teruggeveg met Alwyno Visagie, Bradley Roberts en S’busiso Nkosi wat die Haaie ‘n goeie voorsprong gegee het.
Die Luiperds het wel goed in die tweede helfte terugbaklei met Tapiwa Mafura en Barend Janse van Rensburg wat met twee goeie drieë die agterstand verklein het. Na hierdie oorwinning sien die Luiperds uit na hulle volgende wedstryd op Olën Park teen WP Saterdag waar hulle beslis nog ‘n oorwinning kan behaal.
Die o.21’s het wel effe swakker gevaar en ‘n tweede agtereenvolgende loesing beleef toe hulle met 46-24 teen die o.21 Haaie tevrede moes wees. Die Haaie se losskakel, Innocent Radebe het heel onskuldig die telbord laat aanhou oortik vir die tuisspan en het met sy akkurate skopskoen die deurslaggewende momentum gegee. In hierdie wedstryd is daar nege drieë gedruk met senter, Elden Schoeman, wat met sy tweekuns een van die Luiperds se beste spelers op die dag was.
Beide die o.19 en o.21 Luipeds speel Saterdag teen WP op Olën Park. Die o.19’s speel 12:10 terwyl die o.21’s 13:50 afskop.
o.19 Luiperds t. Haaie punte:
Haaie – 37 (22) Drieë: Alwayno Visagie, Bradley Roberts, Morne Joubert, S’busiso Nkosi (2). Doelskoppe: Tristan Tedder (3). Strafskoppe: Tedder (2).Luiperds – 40 (11) Drieë: Barend Janse van Rensburg, Bhekisa Shongwe, Henry Searle, Siyabonga Masuku, Tapiwa Mafura, Zweli Silaule. Doelskoppe: Siyabonga Masuku (2). Strafskop: Masuku. Skepskop: Masuku.



