SportSport

Bekende tennisafrigter kweek steeds groot liefde vir die spel

“Potchefstroom moet die tennishoofstad van Suid-Afrika wees, en ek dink ons is sterk op pad met ons groeiende fasiliteite hier by Pukke.” So glo Riaan Venter, stigter van die welbekende Riaan Venter Tennisakademie wat nou al vir 20 jaar sterk spore in Suid-Afrikaanse tennis trap. Venter het wel nie altyd geweet dat hy so ‘n …

“Potchefstroom moet die tennishoofstad van Suid-Afrika wees, en ek dink ons is sterk op pad met ons groeiende fasiliteite hier by Pukke.”

So glo Riaan Venter, stigter van die welbekende Riaan Venter Tennisakademie wat nou al vir 20 jaar sterk spore in Suid-Afrikaanse tennis trap.

Venter het wel nie altyd geweet dat hy so ‘n groot impak sou maak en van SA se beste spelers leiding kon gee nie. “Op skool het ek tennis gespeel maar altyd meer op rugby gekonsentreer.

Op universiteit het ek vir Tukkies en NWU Vaal gespeel. Ek het toe ook in ‘n rekenkundige rigting studeer,” vertel hy.

Asof dit so beplan is, het sy lewe in ’n ander rigting geswaai toe hy weer sy ou tennisafrigter, Pieter de Villiers, toevallig raakgeloop het. Dit is waar sy tennisreis aanvanklik begin het en toe verder meer stoom opgetel het.

“Ek het Pieter gehelp as ’n assistent en toe het my liefde vir afrigting net gegroei. Ek het besluit dat ek dit voltyds wil doen. Ek het vir my pa vertel en hy het gesê dat dit reg is en dat ek alles moet insit en deurdruk,” noem hy.

Dit was ongelooflik hoe vinnig Venter begin resultate kry het en naderhand het hy van die top 10 spelers in Suid-Afrika onder sy afrigting gehad. Venter het toe ’n gaping gesien om die massas aan tennis bloot te stel aangesien daar ’n tekort aan jong opkomende tennisspelers was.

“Ons het oral in die land tennisklinieke gehad met verskillende afrigters wat die kinders geleer het. Op daardie stadium het alles oor tegniek gegaan. Deesdae is daar so baie faktore wat in ag geneem moet word soos fisiese- en emosionele kondisionering,” verduidelik hy.

Een van die beste skuiwe was om by die PUK in 2001 betrokke te raak wat met sy fasiliteite en ligging Venter se akademie ’n ekstra dimensie gegee het. “Die standaarde hier by die instituut is wêreldklas met 12 bane waar ons al ’n klompie groot toernooie gehou het. Davisbeker uitspeel-wedstryde teen Nederland en Kroasië sowel as die junior Afrikabeker is groot toernooie wat baie voete lok,” vertel Venter.

“Ons het ook gedurig spelers wat deel van die akademie voltyds is en baie goed presteer soos Tucker Vorster, Nic Scholtz en Madrie le Roux,” sê die ervare afrigter. Tucker Vorster is een van die Akademie se spelers wat tans 330ste op die Wêreldranglys is en reeds ‘n paar groot oorwinnings die jaar behaal het.

Volgens Venter het hy ook nie werklik enige motivering nodig nie aangesien hy elke dag doen waarvoor hy ’n groot liefde het.“As ek ooit opstaan en nie meer daarna uitsien nie sal ek ophou maar daar is net elke dag nuwe ervarings waar ek meer van tennis leer.

Dit is ’n wonderlike sport,” noem hy. Afrigting gaan ook nie kwansuis net oor tegniek en die balvaardighede wat met die sport gepaard gaan nie maar oor ’n wye spektrum aspekte wat tennisspelers kan maak of breek. “Tennis het in ’n baie fisiese sport verander die afgelope paar jaar.

Dit is ’n kragspel waar die een wat die sterkste, vinnigste en bes-gekondisioneerde die wenner is. Tennisspelers werk verskriklik hard vir ses ure per dag net op die baan,” erken Venter.

Die Riaan Venter Tennisakademie is die grootste en enigste akademie van sy soort in Suid-Afrika met intense baanoefening sowel as verskillende toere wat gereël word vir spelers om hulle volle potensiaal te bereik.

“Om die topvlak te bereik moet tennis ’n lewenstyl wees. Gelukkig het ons hier tennisbane, gimnasiums en verblyf waar topspelers hulle sport elke dag kan beoefen.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button