Tien uit tien vir Petoors: Springbok-losskakel wil afrigtingskoene volstaan
Die nommer 10 plaas ’n hopie sand op die rugbyveld. Soos ’n sandkasteel vorm hy die hopie met ’n rugbybal wat dan sekuur daarop geplaas word. ’n Lyn sand word ook in die rigting van die rugbypale gestrooi om die doelskopspel behoorlik aan die gang te sit. Daarna volg ’n kyk na die rugbypale, terug …

Die nommer 10 plaas ’n hopie sand op die rugbyveld. Soos ’n sandkasteel vorm hy die hopie met ’n rugbybal wat dan sekuur daarop geplaas word. ’n Lyn sand word ook in die rigting van die rugbypale gestrooi om die doelskopspel behoorlik aan die gang te sit. Daarna volg ’n kyk na die rugbypale, terug na die bal en dan ’n kenmerkende laaste kyk van onder die oë na die teiken. Sekondes later is tref sy goue skopvoet die bal en dié trek suiwer deur vir nog drie punte. Hierdie roetine is maar net een van die kenmerke van André Pretorius, die voormalige Leeus, Luiperds en Springbok losskakel wat diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap het. Hierdie spore was wel nie altyd sigbaar nie en Petoors moes ’n relatiewe kronkelpad volg voor hy sy goue tokse kon aantrek. In vandag se professionele era is dit amper ondenkbaar om te dink dat Pretorius vir RAU (UJ) se vierde span gespeel het en toe later die Springboktrui oor sy kop kon trek. Vanaf die rugbywildernis het hy wel per toeval sy groot kans gekry en toe die pad na die groen en goud bestemming gestap. “Ek het nooit Cravenweek gespeel nie, maar ek het die Transvaal 15-span gehaal wat vir my groot was. Die beslissende oomblik was toe ek vir Eugene Eloff raakgeloop het op Shelley Beach in Desember 1997 toe ek daar met vakansie was. Loffie sê toe vir my dat hy my as sy losskakel vir die Leeus o.21’s wil hê. Ek het goed gedoen by die proewe en die res was toe geskiedenis.” “In 1999 het Laurie Mains my die kans gegee om Curriebeker rugby vir die Leeus te speel, saam met Hennie le Roux. Hy was my held, so dit was intimiderend om saam met hom te speel teen die Griffons, wat ons gewen het. Ek is steeds dankbaar vir Laurie wat my potensiaal raakgesien het,” sê hy. Pretorius het toe in 2001 aan die provinsiale sewes toernooi in Durban deelgeneem, waar hy as speler van die toernooi aangewys is. “Ek het toe plek in die Springbok sewesspan gekry en ons is toe Argentinië toe vir die Sewes Wêreldbeker, wat vir my ’n groot belewenis was.” Ongelukkig vir Pretorius moes hy eers in 2002 wag vir sy eerste Springboktoets teen Wallis, nadat hy ‘n besering opgedoen het wat sy Springbokdebuut effens vertraag het. “My eerste skop was darem oor. Dit was so ‘n woer-woer skop, maar ek was bly ek kon my eerste toetspunte aanteken en dit het goed gegaan van daar af,” glimlag hy. Pretorius het toe behandeling vir ’n kniebesering nodig gehad en moes ’n gedeelte van 2003 uitsit. Tog het hy geglo dat hy die 2003 Wêreldbekerspan sou haal. Op die ou einde is hy nie gekies nie en dit was een van Pretorius se groot teleurstellings. In 2005 het Pretorius weer die Springbokspan gehaal nadat die afrigter Jake White, hom weer teruggeroep het. “Ek het ’n goeie seisoen gehad en ons het ’n klompie oorwinnings behaal. Ek het ook in daardie jaar die nuwe haka beleef. Die haka bly iets wat ’n mens moet respekteer en dit inspireer ’n speler ook,” vertel hy. Dit is juis teen die All Blacks op die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg waar Pretorius een van die beste oomblikke van sy loopbaan in ’n Springboktrui beleef het. Hy hy ’n laaste minuut strafskop oor die pale getik om die All Blacks se rekordpoging vir agtereenvolgende oorwinnings te stuit. “Hulle sou ons rekord gebreek het en ons kon hulle darem stop. Baie mense sê dat Jake White se loopbaan as afrigter in gedrang was, maar Jake het ’n uitstekende wedstrydplan gehad en ons kon dit deurhak.” Pretorius het toe ook in 2006 vier skepskoppe teen Engeland op Twickenham oorgeskop – iets wat nie altyd deel van sy arsenaal was nie. “Ek sal nie sê ek het spesifiek op skepskoppe gefokus nie. Ek het dit eerder gebruik as ek dink die tyd nodig was,” vertel hy. Die 2007 Wêreldbeker oorwinning in Frankryk sal altyd een van sy grootste herinneringe in sy loopbaan wees. “Die wedstryd teen Fidji in die kwarteindrondte was die beslissende wedstryd. Toe ons hom (37-20) wen toe weet ons die Wêreldbeker is ons s’n met baie topspanne wat reeds uit was.”

Na die Wêreldbeker het Pretorius besluit om die Leeus te verlaat en sy heil by die Western Force in Australië gesoek. Ongelukkig het hy nie ’n wedstryd vir die Force gespeel nie, na die beseringspook sy 2010 Superrugbyseisoen beëindig het voor dit afgeskop het – dit kon hom wel nie afskrik nie. “Daar is vir my gesê dat ek nooit weer sou rugby speel nie. Ek het toe besluit om aan te hou en was in 2010 deel van die Sharks se Curriebekerwenspan. Ek is toe Toulon toe vir vyf maande en keer toe weer terug om vir die Luiperds te speel. “Ek was tussen kontrakte en Jorrie Muller (‘n ou spanmaat wat toe die Luiperds afgerig het), het toe vir my gevra om te kom speel. Ek kon toe goeie wedstrydervaring kry vir die komende seisoen in Frankryk.” Pretorius is toe na Frankryk waar hy vir Carcassonne uitgedraf het en in November 2014 sy tokse finaal opgehang het. Nou is hy gereed vir ’n nuwe uitdaging as rugbyafrigter – iets wat hy reeds met Patria manskoshuis hierdie jaar aangepak het, waar hy hulle na die koshuisbeker gelei het. “My plan is om af te rig en ek sal die onderste trap eers moet trap voor ek groter spanne kan afrig. Ek het baie idees wat ek met die jare by afrigters gesien het en in my eie afrigtingsmetodes invoeg. Ek glo daaraan om spelers te motiveer. Ek geniet die persoonlike interaksie en dit is wonderlik as spelers in jou wedstrydplan kan inkoop en dit volg,” sê hy. Pretorius het die passie, motivering en die tegnieke van afrigters in boeke neergepen wat hy dan in sy eie filosofie deurtrek. Dit is tyd vir ’n nuwe spoor – ’n spoor wat breierskap in die wit sand bestempel. Vinnige Feite Skool: Hoërskool Dinamika Moeilikste teenstander: Tana Umaga, dit was moeilik om teen hom te verdedig. Hy kon systap en het ongelooflike versnelling gehad. Beste spanmaats: Fourie de Preez en Jaque Fourie. Ek en Jaque het ’n goeie verhouding op die veld gehad en altyd fantastiese kommunikasie gehad. Wikus van Heerden en Bob Skinstad was ook ysters. Moeilikste span: Blou Bulle in die 2 000’s – jy weet presies wat hulle doen, maar jy kon die masjien nie keer nie. Oor Jake White: Ek en Jake het ’n stormagtige verhouding gehad. Hy het my nooit op my gemak gehad nie. Jake het wel altyd vir my kanse gegee en hy het in my geglo. Dit het wel die beste uit my gebring en ek kon my beste rugby onder hom speel. Sy skopmetode: Wat die kyk betref – Ek kon nie die bal deur die pale skop nie. Alles het links getref. In ’n stadium toe kyk ek vir die bal en toe net vir die onderste deel vir die pale. Ek kon toe met my geestesoog so visualiseer dat die pale dan ’n reguit skop is. Ek sal nooit vergeet toe ek in Cresta was en ’n jong outjie my herken het nie. “Doen die oog doen die oog,” het hy vir my gesê. Ek het nie geweet wat hy bedoel nie en toe iemand my weer vra, toe vra ek wat bedoel hy. Na ’n verduideliking toe verstaan ek. Dit is toe wat die kameras en kommentators op my tegniek gefokus het.



