Noordwes Drake wil vuur onder WP maak op Senwespark
Noordwes se krieketspan skop die nuwe jaar af as voorlopers in Poel A van die Sunfoil Driedag-reeks en ook die KSA Eendag-reeks. Na die koerant einde verlede jaar vir ’n paar dae gesluit het, het Noordwes behoorlik gaan klaarspeel met Noordelikes in Pretoria. Op ‘n baie moeilike kolfblad is Noordwes uitgeboul vir net 144 en …

Noordwes se krieketspan skop die nuwe jaar af as voorlopers in Poel A van die Sunfoil Driedag-reeks en ook die KSA Eendag-reeks.
Na die koerant einde verlede jaar vir ’n paar dae gesluit het, het Noordwes behoorlik gaan klaarspeel met Noordelikes in Pretoria.
Op ‘n baie moeilike kolfblad is Noordwes uitgeboul vir net 144 en toe die tuisspan uitgeknikker vir 172. Noordwes se tweede beurt het flink verloop en die telling het op ‘n stewige 274 gestaan toe die laaste paaltjie geval het. Nicky van der Berg was met sy 68 die beste kolwer.
Dit het aan die tuisspan ‘n teiken van 247 gestel om die wedstryd te wen. Hulle is egter almal terug in die kleedkamer vir ‘n skamele 112, danksy windmaker boulwerk deur Phumelelo Matshikwe wat 6/17 in 15.4 boulbeurte neem. Bjorn Fortuin neem 3/28 en Noordwes wen met 134 lopies om 14 punte uit die wedstryd te neem en dus op 77.62 ligapunte staan. KZN is in die tweede plek met 72.12.
In die eendag-wedstryd het Noordwes 236 aangeteken met André Malan wat sy 100-tal net-net misgeloop het: 96. Noordelikes is uitgeboul vir net 106 en met dié oorwinnng het Noordwes ook die eerste plek in diè kompetisie ingeneem.
Van vandag (Donderdag) af speel Noordwes op Senwespark teen die WP in die Sunfoil Driedag-reeks met die opwindende eendag-wedstryd wat Sondag gespeel word.



