Groot Rugby League aksie hierdie Saterdag
Met bitter min tyd oor ter voorbereiding na die afgelope vakansie, is die op en wakker Rugby League-span van Potchefstroom Dorp Rugbyklub, die Western Vikings, oorgehaal vir die Amerikaanse Universiteit van Beiroet vir Saterdag se wedstryd op Dorp se veld. Heelwat spelers wat nog met vakansie sou wees, is inderhaas opgeroep vir die belangrike internasionale …

Met bitter min tyd oor ter voorbereiding na die afgelope vakansie, is die op en wakker Rugby League-span van Potchefstroom Dorp Rugbyklub, die Western Vikings, oorgehaal vir die Amerikaanse Universiteit van Beiroet vir Saterdag se wedstryd op Dorp se veld. Heelwat spelers wat nog met vakansie sou wees, is inderhaas opgeroep vir die belangrike internasionale wedstryd wat beslis die fokus nog meer op League en Unie se goeie samewerking plaas en dit alles ter bevordering van rugby.
‘n Groep van 28 lede word Saterdag, 16 Januarie in Potchefstroom verwag vir die wedstryd wat om 16:00 begin. Die Tlokwe burgemeester, raadslid Kgotso Khumalo is die hoofbeskermheer van Potch Dorp en sal die gaste verwelkom. Ondertussen gaan dit soos ‘n byenes by die klub om alles vir die wedstryd gereed te kry. Groot belangstelling word verwag en selfs die Departement van Onderwys en Sport Ontwikkeling het toegetree deur uitnodigings aan skole te stuur om die wedstryd by te woon.
“Ons het bitter min tyd ter voorbereiding na die vakansie gehad. Die spelers is nie heeltemal gereed vir die groot uitdaging nie en sou ons ‘n haas uit die hoed trek, dan sal dit skokgolwe veroorsaak, maar ‘n verloor kan ook as ‘n wen gesien word,” se Jan Prinsloo, uitvoerende raadslid van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad en bestuurslid van Potchefstroom Dorp Rugbyklub. Die besoekers oornag Saterdag in Potchefstroom en speel daarna nog twee wedstryde in Suid-Afrika. Die besoek beteken geweldig baie vir League en Unierugby omdat albei kodes hierby kan baat en die komende Wêreldstudentebeker vir League geleenthede skep vir Suid-Afrikaanse studente om rugby te help ontwikkel.
Noordwes is tans besig om die vinnige spel en wat van ‘n rugbyspeler verwag word, aan alle spelers oor te dra. “Die gesindheid tussen League en Unie in Noordwes is merkwaardig en bemoedigend omdat dit oor rugby gaan,” sê Prinsloo.



