Gimmie atleet gooi SA goud raak
Potchefstroom Gimnasium het ‘n splinternuwe SA kampioen in hulle geledere, nadat Waldouw Smit in die o.17 spiesgooi-item vir seuns ‘n goue medalje by die SA Skole Kampioenskappe in Bloemfontein losgegooi het. By dié kampioenskappe wat vanaf 17 tot 19 Maart plaasgevind het, het Waldouw sy eie rekord met ‘n kragtige en pragtige gooi van 75.41 …

Potchefstroom Gimnasium het ‘n splinternuwe SA kampioen in hulle geledere, nadat Waldouw Smit in die o.17 spiesgooi-item vir seuns ‘n goue medalje by die SA Skole Kampioenskappe in Bloemfontein losgegooi het.
By dié kampioenskappe wat vanaf 17 tot 19 Maart plaasgevind het, het Waldouw sy eie rekord met ‘n kragtige en pragtige gooi van 75.41 meter gebreek. Sy vorige beste afstand was 74.24.
“Ek is verskriklik bly en opgewonde op dieselfde tyd. Dit het eers ‘n rukkie geneem voor dit ingesink het. Dit was baie spesiaal met my oupa wat ook by was om die sukses te vier,” vertel Waldouw, wie se oupa Koos Smit hom al sedert graad 7 met sy spiesgooi afrig.
“My oupa en die res van my familie ondersteun my altyd ten volle en sonder hulle sou dit moeiliker gewees het,” noem hy verder. Volgens hom was een van die sleutels tot sy sukses dat hy al vroeg in September begin het om te oefen en goed voorberei het om sy beste te gee wanneer dit saak maak by die SA’s.
“Die motivering is altyd daar en volgende jaar wil ek nog verder gooi. My vertroue in die Here help my baie in my atletiek.”

Smit mag dalk die beste in Suid-Afrika wees, maar sy Gimmie atletiekmaats het ook voortreflik presteer tydens die SA’s.
Hier is die volledige uitslae van Gimmies se presteerders:
Medaljewenners:
•Waldouw Smit – spiesgooi, seuns o.17 (goud)
•Milandré Stafford – 5 000m stap, dogters o.17 (silwer)
•Miandi van Staden en Suneel Lourens – 4x100m aflos, dogters o.15 (silwer)
Ander atlete wat onder die top agt tel in SA:
•Lumka Gebengana – 90m hekkies, seuns o.15 (4de), verspring (7de) en 4x100m aflos (4de)
•Suneel Lourens – verspring, dogters o.15 (4de)
•Maritz Pieters – 200m, seuns o.17 (4de) en 4x100m aflos (5de)
•Chané Steyn – 100m hekkies, dogters o.19 (5de) en 400m hekkies (6de)
•Christoff Muller – diskus, seuns o.19 (6de)
•Marthinus du Preez – 300m hekkies, seuns o.15 (6de)
•Donevan du Toit – 4x100m aflos, seuns o.17 (5de)
•Lisa Swanepoel – 400m dogters o.19 (7de)
•Miandi van Staden en Marike Nel – medley-aflos, dogters o.15 (4de)
•Bianca Jansen- hamergooi, dogters o.15 (8ste)
•Leonie Maree – spiesgooi, dogters o.17 (7de)
•Carla Kok – 3 000m, dogters o.19 (7de) en Lisa Swanepoel- 400m, dogters o.19 (7de)



