SportSport

Varsitybeker halfeindstryd: UJ se oranje masjien wag vir Pukke

Die vlugtige agterlyn en lostrio van NWU-Pukke teen die geharde pak voorspelers en skerp individuele wedstrydbrekers van UJ op ‘n volgepakte UJ-stadion komende Maandagaand, 4 April in die 2016 Varsitybekerhalfeindstryd. Dit is waarna rugbyliefhebbers kan uitsien wanneer Jonathan Mokuena se wit, swart en maroen krygers teen Werner Janse van Rensburg se oranje en swart masjien …

Die vlugtige agterlyn en lostrio van NWU-Pukke teen die geharde pak voorspelers en skerp individuele wedstrydbrekers van UJ op ‘n volgepakte UJ-stadion komende Maandagaand, 4 April in die 2016 Varsitybekerhalfeindstryd.

Dit is waarna rugbyliefhebbers kan uitsien wanneer Jonathan Mokuena se wit, swart en maroen krygers teen Werner Janse van Rensburg se oranje en swart masjien kragte meet.
160 minute staan nou tussen hierdie twee Varsitybekerspanne en hulle oomblik van glorie in vanjaar se Varsitybeker. Die wenner sal teen Tuks of Maties in die eindstryd speel.
Wanneer Pukke teen UJ op die veld draf, het hulle die kans om hul derde agtereenvolgendeVarsitybeker-eindstryd te haal.
Om in die eindstryd te speel en nie te wen nie, ken Pukke wel goed en hulle sal in 2016 vir eens en vir altyd van daardie etiket wil ontslae raak.

Dit is net een kant van die motivering vir Pukke, wat na ’n moeilike seisoen van hoogtepunte en laagtepunte nou net twee goeie oorwinnings nodig het om uiteindelik hulle eerste Varsitybeker te wen.
Volgens NWU Pukke afrigter, Jonathan Mokuena, is hy gereed vir UJ se aanslag en gaan hierdie week met gefokusde analises seker maak dat hulle nie weer in dieselfde strik as vroeër trap nie.

“UJ is ’n baie goeie span met individuele talent. Ronald Brown en hulle senterpaar het my tot dusverbeïndruk. Ons gaan ’n oog op hulle moet hou.”
Mokuena voel ook veral tevrede met sy span se vorige wedstryd teen die Shimlaswatsy span met 37-21 gewen het.
“Ek is gelukkig met my span se vertoning. Hulle het van die eerste minuut af hard teen Shimlas gespeel en ons sal teen UJ ekstra moet gee. Ons gaan harde rugby van minuut een tot 80 moet speel om te wen. Ek het vertroue in my span om dit te doen,” beklemtoon hy.

Die roete na die eindstryd sal teen UJ gewis glad nie maklik wees nie, met die Johannesburgers wat verlede week oor die kragtige Maties met 42-17 gestoomrol het.
UJ afrigter, Werner Janse van Rensburg is optimisties oor sy span se kanse in die halfeindstryd, maar weet dat Pukke hulle beste spel gaan bring.

“Wat voorheen gebeur het tel absoluut niks nie. Die halfeindstryd is ‘n nuwe bladsy vir ons. Ons enPukke het altwee verskillende roetes na die eindstryd geneem. Harde werk op die dag sal die wenner bepaal. Dit is vir ons ‘n groot geleentheid wat ons met albei hande moet aangryp,” het hy gesê.
*Die wedstryd skop om 19:00 af en kan op SuperSport 1 gekyk word.

Spelers om dop te hou:
NWU-Pukke
Rhyno Smith:
Die heelagter het weer ’n uitstekende seisoen, waar hy met sy flink voetwerk, spoed en besluitneming verbeter met elke wedstryd. Sy skopvoet is nie so akkuraat nie en hy kan ’n stil wedstryd hê wanneer hy onder druk geplaas word.
Jeandré Rudolph:
Rudolph het sy beste wedstryd vanjaar teen Shimlas gehad en lyk of hy nou sy beste spelpeil gevind het. Sy talent met die bal in hand kan nie onderskat word nie.
Benhard Janse van Rensburg:
Hy het in sy debuutseisoen by Pukkesonder enige moeite die belangrike nommer 10 trui aangetrek en soos ’n ervare losskakel sy troepe op die veld gelei. As hy in die halfeindrondte sy staal kan wys, dan kan ons verseker sê dathy ware BMT het.
UJ
Ronald Brown:
Hy het tot dusver ’n foutlose vertoning in UJ se nommer 15 trui gehad en het die kritici laat regop sit met sy speler van die wedstryd vertoning teen Pukke in die tweederonde van Varsitybekeraksie. Sy skopskoen en spoed op die aanval maak hom uiters gevaarlik.
Divan Nel:
Nel se skopvoet is die beste een in die Varsitybeker – dit is ’n feit. Sy taktiese skopwerk en skerp oog vir die pale maak van hom ’n gevaarlike teenstander vir Pukke.
Die wedstryd gaan beslis swaai aan die kant van UJ as Nel die spel begin dikteer – iets waarvoor Pukke van die eerste fluitjie af moet keer.
Etienne Oosthuizen:
Die flank sit met twee spelers van die wedstryd toekennings in hierdie toernooi en sal nog een wil toevoeg. Die blonde uitblinker van Kempton Park gaan beslis weer ’n doring in die Pukke se vlees wil wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button