SportSport

Afrigter van die jaar deel sy waterpas-strategie

Uitstekende afrigting is ‘n onlosmaaklike deel van sport, maar een wat nie altyd herken word nie. Soms kom ’n mens eers die belangrikheid van afrigting agter wanneer daar ’n gebrek daaraan is. Dit kan met veiligheid gesê word dat onderwaterhokkie in Noordwes nie die topvlak sou bereik sonder die afrigtingsbrein van Potchefstroom se JD Aucamp …

Uitstekende afrigting is ‘n onlosmaaklike deel van sport, maar een wat nie altyd herken word nie. Soms kom ’n mens eers die belangrikheid van afrigting agter wanneer daar ’n gebrek daaraan is.

Dit kan met veiligheid gesê word dat onderwaterhokkie in Noordwes nie die topvlak sou bereik sonder die afrigtingsbrein van Potchefstroom se JD Aucamp nie.

Aucamp, tans die onderwaterhokkie afrigter by Noordwes se juniors, is meestal agter die skerms, maar hy bring die beste uit sy spelers op hulle hoofverhoog uit. Hierdie maand is sy uitstaande afrigting bekroon met die Jimmy Herbert toekenning vir onderwaterhokkie afrigter van die jaar saam met Pamela Mackor, wat ook by Noordwes as afrigter betrokke is.

Daarbenewens is hy ook die enigste afrigter in die land met ’n vlak 7 afrigtingskwalifikasie by SASCOC in onderwaterhokkie.

So hoe het alles vir die geografie onderwyser by Hoërskool Ferdinand Postma en ou Volkiematrikulant begin?

“In 1988 het my destydse MBW dosent my aan onderwaterhokkie voorgestel. Ek was nog altyd ’n goeie swemmer en sportief en ek het dit baie geniet. Ek het later in 1999 junior onderwaterhokkie begin afrig en vir Noordwes na die junior nasionale kampioenskappe daardie jaar in Vereeniging geneem.”

2006 was ook ’n groot hoogtepunt vir Aucamp wat as SA afrigter die meisies onderwaterhokkiespan na brons in die onderwaterhokkie wêreldkampioenskappe in Sheffield, Engeland gelei het.

Dit kan wel nie sy grootste hoogtepunt as leier van ’n SA wenspan klop nie – nie sommer gou nie.

2015 was ’n goue jaar vir die fundi toe hy sy SA junior damesspan by die junior wêreldkampioenskappe oortuigend alle teenstanders in hulle pad platgevee het.

“Dit was vir my baie spesiaal en ek is seker dit het baie bygedra tot my toekenning. Ek beplan om afrigtingskursusse aan te bied en my kennis na ander afrigters oor te dra en hulle dan sodoende af te rig,” vertel Aucamp, wie se seun Zard in sy pa se voetspore volg en ook die Noordwes o.19 A seunsspan afrig.

Interessant genoeg ken Aucamp ook vir Jimmy Herbert, die legendariese SA afrigter wie se naam op sy trofee pryk en vertel ten slotte van ’n belangrike les wat hy by Herbert geleer het.

“As ’n opponent nie die skyf het nie kan hulle nie ’n doel aanteken nie. Dit het by my gebly tot vandag toe en dit is hoe ons laas jaar die spanne geklop het. Ons het hulle nie kanse gegee nie en hulle frustreer met ons besit. Omdat onderwaterhokkie juis so ‘n veeleisende sport is, is dit juis belangrik om soveel energie as moontlik te spaar deur die besit te hou en nie te jaag nie,” vertel hy.

Video-analise is nog ’n ontsettend belangrike aspek van goeie afrigting deesdae vertel Aucamp wat sy span se wedstryde en strategieë deur middel hiervan bekyk.

“Daar is drie maniere om video analise te gebruik: Jy as afrigter kyk alleen na die materiaal, die hele span kyk na die wedstryd of jy doen individuele sessies met elke speler,” verduidelik Aucamp. Niks klop wel die gevoel vir Aucamp om ’n verskil in sy spelers se lewe in en uit die swembad met sy afrigting te maak nie.

“Die beste aspek van afrigting is om kennis te deel en te sien hoe die spelers elke jaar verbeter en strategieë toepas. Ouers se goeie terugvoer is ook fantasties en dit bewys vir my hoe sport so ’n verskil kan maak en dissipline sterker maak,” vertel hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button