Jong skeidsregter maak naam op die rugbyveld
Op 14-jarige ouderdom het hy die vlag op die kantlyn vasgehou, op 15 het hy vir 80 minute met ’n fluitjie beheer gehou en op 17 is hy een van die jongste en opwindendste rugbyskeidsregters in Noordwes. Hanru van Rooyen se brandende passie vir skeidsregting is onlangs ook beloon toe hy vir die SARU skeidsregterstoernooi …
Op 14-jarige ouderdom het hy die vlag op die kantlyn vasgehou, op 15 het hy vir 80 minute met ’n fluitjie beheer gehou en op 17 is hy een van die jongste en opwindendste rugbyskeidsregters in Noordwes.
Hanru van Rooyen se brandende passie vir skeidsregting is onlangs ook beloon toe hy vir die SARU skeidsregterstoernooi in Bloemfontein, wat vanaf 18 tot 21 Maart plaasgevind het, uitgenooi is. Dié leerling van Hoër Volkskool Potchefstroom het hier uitgeblink en is geprys vir sy hantering van die spel en reëlkennis wat hy deurgaans toegepas het.
“Dit was vir my werklik ’n groot eer.” Die skeidsregtingspaneel evalueer jou en kyk na jou kanse om in die verskeie vlakke op te skuif. Die positiewe kommentaar was fantasties,” noem hy.
Hanru onthou sy eerste wedstryd, ’n koshuisligawedstryd tussen Patria en Villagers, baie goed.
“My pa het nog gesê dat ek vir die wolwe gegooi word om met my ervaring ’n moeilike koshuiswedstryd te blaas. Netnou dink die ouens watter skoolkind is hierdie!,” grap hy.
“Ag, ek was maar op my senuwees maar toe ek eers aan die gang kom het dit baie goed afgeloop. Dit was ’n baie lekker atmosfeer en ek het goeie kommentaar gekry. ’n Oom het ook na my toe gekom en gesê dat dit lyk of ek al twee jaar blaas. Hy kon nie glo dit was my eerste wedstryd nie.”


Volgens Hanru is dit uiters belangrik om nederig te bly en te weet dat jy as skeidsregter nooit groter as die spel is nie.
“My filosofie is om te blaas wat ek sien aangaan op die veld. Ek baseer my besluite op wat ek sien, nie wat anders spelers my laat wil sien nie. Regverdigheid is belangrik,” sê Hanru wat graag na die internasionale skeidsregters Craig Joubert en Nigel Owens opkyk.
Natuurlik is fiksheid ook ’n belangrike aspek van skeidsregting vir die 17-jarige, wat elke draf om fiks te bly.
Bowenal is Hanru ook ’n belowende rugbyspeler met ’n skerp brein en instink vir die spel op die veld. Vanjaar dra hy tans Hoër Volkskool Potchefstroom se nommer 10 trui in die eerstespan en het al paar keer gewys dat hy op losskakel tuis is.
“Ek geniet die aanvallende geleenthede baie en ek werk baie aan my skopwerk ook,” sê Hanru wat ’n paar weke gelede ’n pragtige skepskop teen Hoërskool Driehoek in die PUK-reeks oorgeklits het.
“Dit kan wel frustrerend raak wanneer skeidsregters ’n fout maak as ek rugby speel. As skeidsregter weet ek dalk dit was verkeerd.
Dan wens ’n mens sommer jy het ook die wedstryd geblaas,” sê hy met ’n glimlag.
Vanjaar wil Hanru nog met die eerstespan die PUK-reeks wen en ook die gesogte Beeldtrofee verower. Hy sien ook vreeslik uit na die Classic Clash teen Gimmies wat einde Mei plaasvind.
“Die gees en atmosfeer is ongelooflik voor die Gimmie-Volkie wedstryd. Die week voor dit voel ’n mens amper soos ’n sportster.”
Ster is dalk net die woord vir dié rugbymal rooikop wat met sy rugbytokse en fluitjie dalk eendag ’n Curriebeker-eindstryd gaan blaas.
* Hier is nog ‘n storie oor skeidsregting wat interessant mag wees: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/11671/christo-van-heerden-die-31ste-man-op-die-rugbyveld/



