Olimpiese goud wink vir Caster
Dit is tans die bekendste gesig vir menige deelnemers regoor die wêreld se atletiekbane: Caster Semenya se hakskoene. Die 25-jarige Semenya se skitterjaar het op 16 Mei tydens die IAAF Diamantliga-byeenkoms in Doa begin toe sy die 800m in tyd van 1:58.26 gewen het. Daarna het sy in Rabat op 22 Mei ‘n uitstaande wentyd …
Dit is tans die bekendste gesig vir menige deelnemers regoor die wêreld se atletiekbane: Caster Semenya se hakskoene.
Die 25-jarige Semenya se skitterjaar het op 16 Mei tydens die IAAF Diamantliga-byeenkoms in Doa begin toe sy die 800m in tyd van 1:58.26 gewen het. Daarna het sy in Rabat op 22 Mei ‘n uitstaande wentyd van 1:56.44 opgestel voor sy op 2 Junie in Rome met ‘n tyd van 1:56.64 geseëvier het.
“Alles loop tans vir Caster volgens plan. Dit is nou net belangrik om balans tussen die voorbereiding vir wedlope, die wedlope self, haar eksamens en die leer vir die eksamens te handhaaf,” vertel haar afrigter by die NWU-Puk en bestuurder van die Hoë Prestasie Instituut (HPI), Jean Verster.
“Ek dink die groot ding is dat sy gelukkig hier in Potchefstroom is. As jy geniet wat jy doen en jy doen dit vir die regte redes, sal sukses jou vind. Sy hardloop nie vir geld of beroemdheid nie; sy hardloop omdat sy dit geniet. Indien sy nie reeds op haar beste is nie, is sy baie naby daaraan.”
Die Afrika kampioenskappe volg van 22 tot 26 Junie in Durban, dan die Diamantliga byeenkoms in Monaco op 15 Julie, waarna die Olimpiese Spele op 5 Augustus in Rio de Janeiro, Brasilië afskop. “Almal kan gerus die byeenkoms in Monaco dophou,” sê haar NWU-Puk-spanmaat, Samuel Sepeng, ook die jonger broer van die Olimpiese held, He: “Dis ‘n vinnige baan. Sy kan die wêreldrekord van 1:53.28 breek.”
Nóg ‘n atleet in Verster se stal is die 5000m SA-rekordhouer Elroy Gelant. Gelant, wat vanjaar in Nederland die rekord met ‘n tyd van 13:04.88 syne gemaak het, is ‘n buiteperd wat medalje tydens die Spele betref, asook die NWU-Puk se tienkampheld, Willem Coertzen.
“Elroy lyk baie goed. Sy fokus is om die finale ronde by die Spele te haal. Daar is gewoonlik so 12 atlete in die laaste ronde en as jy eers daar is, kan enige iets gebeur. Die eindronde van die 5000m is baie takties. Jy moet fiks wees, maar jy moet ook sterk wees, want jou spoed speel gewoonlik ‘n deurslaggewende rol in die laaste 400m van die wedloop. Willem gaan ook goed aan. Hy moes ongelukkig onlangs in Europa weens siekte aan die tienkamp onttrek, maar hy is op goeie vorm. Hy lê deesdae baie klem op sy paalspring, want dit is tradisioneel een van sy swakker items, maar as hy sy peil daarin kan lig, is hy maklik een van die top drie, vier of vyf in die wêreld,” verduidelik Verster.
Dan is daar Nijel Amos. Hoewel dié boorling van Botswana nie ‘n NWU-Puk-student is nie, is Verster sy afrigter by die HPI. “Hy herstel tans nog van griep, maar wanneer hy gesond is, is hy nie net ‘n deelnemer aan enige kompetisie nie, hy is ‘n sterk kandidaat vir goud.”



