Luiperds soek oorwinning teen OP Kings op Olënpark
Die Luiperds het bietjie karakter getoon en Vrydag in Durban naelskraap teen die Haaie XV verloor (26-23) in ‘n wedstryd in die provinsiale liga wat ook as kwalifiserende reeks vir die Curriebeker dien. Die Luiperds kan nie meer vir die Curriebeker kwalifiseer nie en sal in die eersteliga meeding, die liga wat die Luiperds verlede …
Die Luiperds het bietjie karakter getoon en Vrydag in Durban naelskraap teen die Haaie XV verloor (26-23) in ‘n wedstryd in die provinsiale liga wat ook as kwalifiserende reeks vir die Curriebeker dien.
Die Luiperds kan nie meer vir die Curriebeker kwalifiseer nie en sal in die eersteliga meeding, die liga wat die Luiperds verlede seisoen onder die sweep van Robert du Preez gewen het.
Die Luiperds is nou tweede laaste op die punteleer vir die potensiële kwalifiseerders met net die Valke wat laer op die leer lê. Tans is die Griekwas byna seker van die ware Curriebeker (51) met Boland wat verrassend in die tweede plek ingeskuif het, vier punte voor die Pumas wat verlede seisoen in die Curriebeker gespeel het. (45 teenoor 41). Dan kom die agterosse: Griffons 30, SWD 26, Grens 25, Luiperds 25 en die Valke 20.
In die wedstryd teen Natal se Haaie XV het Benhard Janse van Rensburg 13 punte aangeteken met ‘n drie, twee strafdoele en ‘n doelskop. Jaco Jordaan en Rowayne Beukman het die ander drieë gedruk. Die Luiperds moes sonder die puntemasjien, Rhyno Smith, klaarkom. Die volgende wedstryd is Vrydag 8 Julie op Olënpark in Potchefstroom teen die sukkelende OP Kings. Die afskop is om 15:00.



