Volkies se veelsydigheid troef Gimmies
‘n Merkwaardige vertoning met die kolf en die bal het verlede Saterdag vir Volkskool se Louis van Schalkwyk in ‘n krieketheld verander teen Gimmies in ‘n titaniese Noordwesliga-kragmeting. Van Schalkwyk se 105 nie uit nie en 3/36 met sy draaiballe het grootliks bygedra tot sy skool se vyf paaltjie oorwinning op Volkie-bodem. Dit was veral …

‘n Merkwaardige vertoning met die kolf en die bal het verlede Saterdag vir Volkskool se Louis van Schalkwyk in ‘n krieketheld verander teen Gimmies in ‘n titaniese Noordwesliga-kragmeting.
Van Schalkwyk se 105 nie uit nie en 3/36 met sy draaiballe het grootliks bygedra tot sy skool se vyf paaltjie oorwinning op Volkie-bodem. Dit was veral die jong veelsydige speler se kolfwerk wat die oog van die skare, spanmaats en teenstanders gevang het. So koel soos ‘n komkommer het hy die wenlopies geslaan met slegs vier balle oor – ‘n perfekte lopiejaagtog teen ‘n Gimmiespan wat tot die einde toe vir ‘n oorwinning geveg het.
Vroeër het Gimmies die loot gewen en kaptein Herman de Jong besluit om eerste te kolf en die druk op Volkies te sit. Ironies genoeg was Gimmies toe hulle eie vyand toe hulle vinnig paaltjies verloor.
Die indrukwekkende Robert de Villiers (2/47) in 10 boulbeurte en Vincent Viljoen (3/49) in 9 boulbeurte het Gimmies kniediep in die moeilikheid gehad. Toe André Taljaard van Duan Jansen vir 28 ontslae raak was die telling op 111/7.
Gimmies het wel nie die handdoek ingegooi nie en die briljante 144 lopie vennootskap tussen De Jong en Vernon Charslund het die momentum stewig in na hulle skool verplaas. Volkies het alles probeer maar Charslund met sy 75 (92) en De Jong met 83 (69) het krag en geduld gemeng. De Jong het juis met sy 5 sesse ‘n paar bestuurders laat besef dat hulle motors miskien in die slag sal lê. Gimmies eindig toe hulle beurt op 268 almal uit.
Hierdie vennootskap het energie in Gimmies se aanslag teruggesit en hulle het ook vroeg opslae met Duan Jansen se twee paaltjies gemaak om Volkies tot 8/2 te dwing.
Op daardie noot moes Van Schalkwyk die kolfblad betree en hy en WL Fourie grawe diep en konsentreer soos nog nooit tevore nie. Hulle 101 lopie vennootskap het die fondasie vir die jaagtog gelê. Toe Fourie deur die bestendige Divan Mienie (1/39) uitgeboul is was daar wel steeds baie om te doen.
Nes sy opposisie kaptein, het Ruan von Abo ook met daad gelei en saam Van Schalkwyk nog ‘n honderd lopie vennootskap aanmekaar geslaan. Von Abo se 60 het vier sesse bevat wat van die suiwerste bykanthoue ingesluit het. Een van hierdie sesse is het oud-Volkie en krieketkaptein, Jandré Dreyer, sommer ook koel en kalm met een hand in die skare gevang.
Die momentum het weer duidelik geswaai en Cobus Crowther het met ‘n blitsvinnige 22 (9) sake goed in Volkies se guns gesit. Kort daarna behaal Van Schalkwyk sy honderdtal met ‘n groot glimlag en sprong in die lug.
‘n Speler vir die groot oomblik. ‘n Trotse leerder van sy skool. ‘n Held in die Gimmie-Volkiestryd.
Hier is foto’s van die wedstryd:



