Luiperds soek twee ligatitels in ‘n ry
Die Luiperds-afrigter, Jonathan Mokuena, kan Vrydag een beter doen as Robert du Preez as sy span die Eersteligatrofee Vrydag in die lug kan hou. Dit is Mokuena se eerste seisoen as afrigter en Du Preez kon die trofee eers in sy tweede jaar wen. Die Luiperds se teenstanders is die altyd ongemaklike bure van oorkant …
Die Luiperds-afrigter, Jonathan Mokuena, kan Vrydag een beter doen as Robert du Preez as sy span die Eersteligatrofee Vrydag in die lug kan hou. Dit is Mokuena se eerste seisoen as afrigter en Du Preez kon die trofee eers in sy tweede jaar wen.
Die Luiperds se teenstanders is die altyd ongemaklike bure van oorkant die Vaal: Die Griffons. Die jarelange stryd tussen die twee spanne lyk baie soos ‘n wipplank. Dan is die een span bo en dan weer die ander.
Die Luiperds het egter die laaste klompie jare die plank meer aan hulle kant in die lug gehou en behoort as gunstelinge op die veld te draf.
Die Luiperds is in die eindstryd na hulle verlede Vrydag die aanslag van die Valke afgeweer het en 40-30 gewen het. Hulle het hulle patroon van ander wedstryde weer gevolg en was na 20 minute 15-0 voor. Nog twee drieë het gevolg en die Luiperds gaan drink water met die telling op 27-13 in hulle guns. Die telling het vinnig gegroei to 37-13 en toe kom die Valke se aanslag en hulle vorder tot sewe punte van die Luiperds: 37-30. Die Luiperds beklink eers die wedstryd finaal met die derde Johan Deysel strafdoel drie minute voor die eindfluitjie om met 40-30 te wen.
Deysel het benewens sy drie strafdoele ook drie doelskoppe oorgeklits en self ‘n drie gedruk. Die ander driedrukkers was Jaco Jordaan, Bradley Moolman, Dean Gordon en Gene Willemse.
Die afskop is om 16:00 en die eindstryd van die o.20-liga tussen Boland en die Griffons skop om 13:30 af.
Dit is die ideale wedstryd vir ondersteuners om lojaal aan hulle span te wees en nog voor donker by die huis te wees. Kunsvoos vaders en seuns wat bietjie die Aardklopfeesvoete wil laat rus, kan gerus ook die pad aanpak na Olënpark. Toegangsgelde is uiters billik: R20 vir volwassenes en net R10 vir kinders.
Luiperds teen Griffons: Jaco Hayward, Dean Gordon, Juffrou Vermeulen, Johan Deysel, Bradley Moolman, Gene Willemse, Malherbe Swart, Jeandré Rudolph ©, HP Swart, Juan Language, Walt Vermeulen, Stairs Mhlongo, Panda Dekker, Dane van der Westhuyzen, Roan Grobbelaar. Reserwes: Louis van der Westhuizen, Kabelo Motaung, Francois Robertse, Marno Redelinghuys, Jaco Jordaan, Chriswill September, Sandile Khubeka.



