Luiperds val vas by laaste hekkie
Na ‘n droomseisoen waarin die Luiperds die eersteliga heeltemal oorheers het, moes hulle Vrydagmiddag die knie buig voor die Purple People Eaters van Noord-Vrystaat in die eindstryd van die Curriebeker se eersteliga. Die Griffons het die wedstryd 44-25 gewen. Hulle was teen rustyd 20-11 voor. Die groot doring in die Luiperdvlees was die besoekers se …
Na ‘n droomseisoen waarin die Luiperds die eersteliga heeltemal oorheers het, moes hulle Vrydagmiddag die knie buig voor die Purple People Eaters van Noord-Vrystaat in die eindstryd van die Curriebeker se eersteliga. Die Griffons het die wedstryd 44-25 gewen. Hulle was teen rustyd 20-11 voor.
Die groot doring in die Luiperdvlees was die besoekers se losskakel George Whitehead wat 24 punte aangeteken het met ‘n drie, vyf doelskoppe en drie strafdoele. Ander uitblinkers in die Griffonspan was die skrumskakel Yusuf Boela Abrahams en die heelagter Selvyn Davids. Die kaptein Gavin Annandale het die span puik aangevoer.
Die Luiperds se kaptein, die agsteman Jeandré Rudolph, het sy gebruiklike goeie spel gelewer, maar die ondersteuning was net nie daar nie.
Die Luiperds het net geen antwoord gehad vir die knaende aanvalle van die besoekers nie. Die verdediging kon net nie al die gate toestop nie.
Daar was dalk hier en daar meer talent in die Luiperdspan, maar die besoekers het met ‘n totale span-aanslag gekom, met die wil om te wen. Miskien was die Luiperds net te gerus.
Alhoewel die Luiperd afrigter, Jonathan Mokuena Vrydagaand gesê het dat hy beslis weer volgende seisoen aan die stuur sal wees, bly hardnekkige gerugte die ronde doen dat hy dalk geoormerk is om die vakante afrigterspos by die Junior Bokkies oor te neem.
*Die Luiperds se ster senter, Johan Deysel, speel volgende seisoen vir die Haaie.