Potch Dorp en Pukke se krieketreuse gaan Saterdag slaags raak
In Potchefstroom se klubkrieketkringe is daar geen groter tradisionele tweestryd as die een tussen Potch Dorp Krieketklub en NWU Pukke se eerstespanne nie. Hierdie naweek pak hierdie twee talentvolle spanne mekaar op Pukke se krieketvelde in die hoop om na hierdie wedstryd bietjie te kan spog. Terloops is altwee spanne nog onoorwonne in hierdie jaar …

In Potchefstroom se klubkrieketkringe is daar geen groter tradisionele tweestryd as die een tussen Potch Dorp Krieketklub en NWU Pukke se eerstespanne nie.
Hierdie naweek pak hierdie twee talentvolle spanne mekaar op Pukke se krieketvelde in die hoop om na hierdie wedstryd bietjie te kan spog. Terloops is altwee spanne nog onoorwonne in hierdie jaar se Noordwes Premierliga. Saterdagaand sal een span nog steeds met ‘n 100% rekord sit, terwyl die ander bietjie wonde sal lek. Pukke se Janneman Malan is tans in verbysterende vorm met die kolf en kom juis van twee honderdtalle af, een vir die Drake en ‘n ander vir sy klub.
Henning du Plooy is ook besig om ‘n goeie paaltjieoes in te samel met sy draaiballe. Aan Potch Dorp se kant is Marcus Fourie en spankaptein, Stefan Gericke die groot lopiemasjiene vanjaar met Hussein Alli en Siviwe Gidana wat met die bal kan skade aanrig.
Nog ‘n interessantheid is dat daar ook ‘n paar voormalige Puk spelers nou vir Potch Dorp speel. Soortgelyk is JP le Roux, wat verlede jaar vir Dorp gespeel het, nou by die Pukke as snelbouler betrokke. Dit laat toe vir ‘n paar interessante faktore in die aanloop van hierdie wedstryd.
Altwee spanne ken mekaar ook al bitter goed deur die loop van die jare se krieketaksie. “Dit is altyd ‘n lekker wedstryd en een waarna ons baie uitsien. Dit het daardie regte Derby atmosfeer en ons hoop om hierdie jaar met goeie krieket die wedstryd te wen,” vertel Ockert Gericke, kolwer van Potch Dorp. Verlede jaar het Pukke op Witrand se krieketvelde in ‘n naelbytstryd vir Potch Dorp gewen.
Conrad de Swardt, NWU-Pukke se afrigter, is nederig en onderskat glad nie sy opposisie nie. “Dit is vir ons net nog ‘n klubwedstryd en ons pak dit op dieselfde manier as al die ander wedstryde aan,” het De Swardt bygevoeg.



