Bekerdroom moet vanjaar vir Pukke ‘n realiteit word
Die groot vraag op elke Pukke krieketondersteuner se lippe is of die Varsity Krieket-trofee uiteindelik in Potchefstroom gaan agterbly. Elke jaar het Pukke ‘n uitstekende span, maar kan net-net nie op die maak of breek oomblikke wen nie. Verlede jaar was Tukkies die tuisspan se angel en daardie halfeindstryd nederlaag het seer gesteek, veral nadat …
Die groot vraag op elke Pukke krieketondersteuner se lippe is of die Varsity Krieket-trofee uiteindelik in Potchefstroom gaan agterbly.
Elke jaar het Pukke ‘n uitstekende span, maar kan net-net nie op die maak of breek oomblikke wen nie. Verlede jaar was Tukkies die tuisspan se angel en daardie halfeindstryd nederlaag het seer gesteek, veral nadat Tukkies as kampioene ook gekroon is.
Tog glo die Pukke bestuurspan onder leiding van Conrad de Swardt (hoofafrigter), Niel Bredenkamp, Jimmy Kgamadi (hulpafrigters) en Johan van der Wath (boulafrigter) dat die bordjies in 2017 verhang gaan word wanneer die derde aflewering van die Varsity Kriekettoernooi vanaf 30 Januarie – 4 Februarie in Potchefstroom gaan plaasvind.
“Die wedstryde waar ons laasjaar gesukkel het was teen spanne waar bekende name betrokke was. Ons sou dan teen die naam speel en dan nie ons beste spel lewer nie. Die wedstryde waar ons uitstekend gedoen het, was teen spanne met baie onbekende spelers. Ons sal ‘n psigiese kopskuif moet maak hieroor en ons wedstrydplanne uitvoer, ongeag teen wie ons speel. Die oomblik kan nie te groot word hierdie jaar nie,” het Bredenkamp verduidelik.
Pukke het wel nou met reg ekstra motivering nadat hulle Tukkies verlede jaar in die KSA Nasionale Klubkampioenskappe vir die eerste keer in vyf jaar verslaan het. Dit het daardie kettings gebreek en Pukke weet nou dat hulle Tukkies kan klop.
“Die meeste van ons spelers het nou al ten minste een keer Varsity Krieket gespeel en hulle sal aan die druk van groot wedstryde gewoond wees. Baie van die ouens wil op ‘n hoë vlak krieket speel en weet wat die behels. Ons sê nie spesifiek vir die ouens wat hulle moet doen nie en gee hul vryheid om hul natuurlike spel te speel. Die dissipline is ook op ‘n hoë standaard,” vertel Bredenkamp.
Pukke het ook die afgelope week ‘n paar oefenwedstryde gespeel om spankeuses te vergemaklik en spelers die kans te gee om hulself onder druksituasies te bewys.
“Hierdie jaar gaan ons meer van statistieke gebruik maak om spelers die kans te gee om te sien waar hul goed doen en moet verbeter ook. Ons doen meer moeite met ons voorbereiding voor die toernooi. Ons gaan byvoorbeeld kyk of ons beter doen as ons eerste of tweede kolf,” het Bredenkamp gesê. Volgens Bredenkamp het Pukke se Varsitybekergroep vanjaar ‘n sterk groep veelsydige kolwers wat op verskillende posisies kan kolf.
Bygesê glo hy dat die span nie te veel verander gaan word as die span ‘n wenkombinasie het nie. “Ek glo ons het die spelers om die toernooi te wen en almal hier is honger om die toernooi te wen. Om momentum te bou gaan belangrik wees in die rondomtalie-fase en dit na die semi-finaal oor te dra,” het hy benadruk. De Swardt het ook genoem dat Wihan Lubbe weer die leisels sal neem in vanjaar se Varsity Kriekettoernooi. “Daar gaan 14 spelers in ons finale groep wees wat komende Maandag aangekondig gaan word,” het De Swardt bevestig.



