Nederigheid is die sleutel tot Pukke se speler van die toernooi
Toe Pukke se Varsity Krieketkaptein, Wihan Lubbe die Varsity Krieket-trofee verlede Saterdagaand omhoog hou, het hy twee driekunste behaal. Eerstens het hy vir NWU-Pukke ‘n derde Varsity-titel besorg, nadat die netbal- en rugbyspanne ook verlede jaar as kampioene gekroon is. Sodoende behou Pukke nou al die groot universiteit sport-titels. Tweedens het hy in die finaal …
Toe Pukke se Varsity Krieketkaptein, Wihan Lubbe die Varsity Krieket-trofee verlede Saterdagaand omhoog hou, het hy twee driekunste behaal.
Eerstens het hy vir NWU-Pukke ‘n derde Varsity-titel besorg, nadat die netbal- en rugbyspanne ook verlede jaar as kampioene gekroon is. Sodoende behou Pukke nou al die groot universiteit sport-titels.
Tweedens het hy in die finaal teen Tuks wat sy span met vier paaltjies gewen het, die speler van die wedstryd- toekenning ontvang, sowel as die kolwer van die toernooi en die gesogte speler van die toernooi-toekenning.
Lubbe was die groot ster van die 2017 Varsity Krieket-toernooi op tuisbodem waar sy kapteinskapsvaardighede en houding op en van die veld af almal beïndruk het. Dit is juis sy nederigheid wat sterk na vore kom wanneer hy oor al die prestasies die afgelope week praat, waar Pukke as verdiende kampioene die beker gelig het.

“Daar was vir my twee hoogtepunte. Daardie wedstryd teen UJ waar ek en Janneman (Malan) 249 lopies vir die eerste paaltjie aangeteken het, was baie spesiaal, veral omdat ek en Janneman goeie vriende is en al ‘n lang pad saamstap. Dit was ook belangrik vir my dat die hele span bygedra het in die finaal om die trofee te wen – iets wat coach Connas (Conrad de Swardt) voor die finaal op gefokus het.
“Dit was belangrik om twee oorwinnings oor UCT en NMMU in ons eerste wedstryde Dinsdag te kry. Dit het gemaak dat ons meer gemaklik was en goed saamgespeel het die res van die toernooi. Die wedstryd teen UWC, waar Edrich (Lubbe) 55* geslaan het, was ook belangrik vir ons momentum en karakter. Edrich het ‘n uitstekende toernooi gehad en ons altyd onder druk deurgedra. Hy was ons held en nie baie mense gee hom altyd die krediet wat hy verdien nie,” het Lubbe sy naamgenoot geprys.
Lubbe glo ook dat hulle enigste nederlaag van die toernooi teen Maties eintlik ‘n bedekte seën was in die sin dat dit die span nederig gehou het.
“Ons kon sien dat ons nog hard moes werk en dat enige iemand in die toernooi kan verloor. So kon ons terugkom aarde toe en twee goeie vertonings in die half- en eindstryd te kry,” vertel hy.
Volgens Lubbe was sy rol as kaptein om die span gemotiveerd te hou en goeie verhoudings met die spelers te hê.

“Vir my is dit belangrik om goeie werk agter die skerms te doen en die spelers te ken en te weet wanneer hulle deur ‘n moeilike tyd gaan en hoe om elkeen te kan motiveer. Ek probeer altyd om vir die spelers te sê om die wedstryd net te gaan geniet,” vertel hy.
Dit was nie net met die kolf wat Lubbe presteer het nie. Met sy boulwerk het hy ook op kritieke tye paaltjies geneem.
“Ek het nog altyd daarvan gehou om te boul en ek het besluit om die eerste boulbeurte te boul om die druk op die ander span te sit en ‘n impak in die wedstryd te maak. Baie min draaiers is gemaklik om in die powerplay te boul, maar jy moet ‘n plan hê.”
Die grootste en sekerlik lekkerste planne wat nou vir Lubbe en sy wenspan voorlê is ‘n reis na Sri Lanka vir die Wêreld Universiteitkampioenskappe vanjaar, waar nog ‘n trofee vir Lubbe wag.



