Pukke se Conradie wil atletiekbane nog vir lank aan die brand hardloop
Hou maar gerus ‘n ogie op NWU-Pukke se Pieter Conradie, wat tans besig is om die atletiekbaan warm te hardloop in die 400- en 800 meter. Hierdie voormalige Affies-leerder het die natuurlike talent en wilskrag om hierdie jaar uit te styg. Dit is iets wat hy juis onlangs tydens die ASA Spoedreeks gedoen het toe …

Hou maar gerus ‘n ogie op NWU-Pukke se Pieter Conradie, wat tans besig is om die atletiekbaan warm te hardloop in die 400- en 800 meter.
Hierdie voormalige Affies-leerder het die natuurlike talent en wilskrag om hierdie jaar uit te styg.
Dit is iets wat hy juis onlangs tydens die ASA Spoedreeks gedoen het toe hy en die wêreldbekende Isaac Makwala van Botswana kop-aan-kop oor die eindstreep van die mans 400 meter wedloop is. Vir Conradie was sy 45.76 ‘n nuwe persoonlike beste – iets waarop hy trots is maar steeds altyd wil verbeter.

“Ek het besluit om bietjie ekstra te hou vir die laaste 100 meter en gelukkig werk dinge toe goed uit. Ek geniet die 400 en 800 meter baie. Ek wil juis my tye vanjaar in die 800 meter ook verbeter.
Min atletiekitems is so uitdagend soos die 400 m wedloop, maar vir NWU-Pukke se Pieter Conradie is dit ‘n lekker uitdaging waarin hy juis presteer en sy atletiektalente al vanaf hoërskool uitleef.
“Einde Graad 10 het ek 48.04 in die 400 meter gehardloop en onder my afrigter Nico van Heerden. Ek het toe die SA o.17’s gewen in ‘n tyd van 46.8.
“In my eerste jaar by Tukkies het ek saam met Wayde van Niekerk gehardloop by die 2013 Wêreld Studente Kampioenskappe en derde in die 4×400 meter aflos gekom.
Dit is vir my steeds een van my beste prestasies en ‘n groot eer. Ongelukkig het ek toe ook my nekwerwel gebreek, wat dinge moeilik gemaak het.”
Conradie het toe besluit om na Texas in Amerika te gaan om “mens te word”, waar hy aan ‘n besigheidskool studeer het, voltyds gehardloop en gereis het.
“Daar is goeie fasiliteite in Amerika en die afrigting is goed, maar vir my is Pukke se fasiliteite baie beter. Hier is beter persoonlike afrigting en Jean Verster help my baie. Ek sal nie sommer by ‘n ander afrigter wil wees nie.” Verster is nou vir sowat twee jaar Conradie se afrigter en ‘n mens kan agterkom dat Conradie juis onder sy afrigting begin blom het.
“Verlede jaar was ek ook derde by die SA Senior Kampioenskappe, wat vir my baie beteken het. Ek het geweet ek is op die regte spoor.” Conradie gee ook graag aan sy broer krediet wat hom deur die jare gementor het.
“My broer (Chris Conradie) rig my al af vandat ek jonk is en hy help my baie met my beplanning en organiseer my atletieklewe vir my. Hy rig ook my kompetisie by Tuks af,” vertel hy.
Conradie glo dat hy baie naby is om sy doelwitte te bereik. Dit is om die wêreldkampioenskappe en Olimpiese Spele se kwalifiserende tye te haal.
“Ek sal nie ophou oefen totdat ek nie my doelwitte bereik het nie. Ek wil graag my tyd na 45.40 verbeter, so ek is baie naby om daardie merk te haal. Dit is nodig om so vinnig en sterk as moontlik te wees, beide fisies en geestelik. Daardie mentaliteit om te wen en kompeterend te wees, maar steeds jou opponent te respekteer, is belangrik.”
Interessante feite:
Skool: Affies
Gunsteling plaaslike atletiekbaan: Germiston
Mentors: Jean Verster en sy broer Chris Conradie
Studies: B.Com. Landbouekonomie en Risikobestuur (3de jaar)
Gunsteling musiek: Avicii en Afrikaanse musiek soos Robbie Wessels
Gunsteling kos: Calamari en ribbe.
Gunsteling drankie: Steelworks
Laaste fliek wat jy gekyk het? Waterboy
Vyf mense wat jy graag wil ontmoet: Adam Sandler, Michael Johnson, Donald Trump, Retief Goosen en Usain Bolt
Stokperdjies: Jag, motorfietsry en gholf.
Lewensmotto: “Jy kan nie jou geluk in die tydelike goed sit nie, omdat daar meer ewigheidswaarde in die lewe is. Atletiek is net ‘n klein deel van die groter prentjie.”



