ML Fick se SA kampioen stap trots na titel
Stap vir stap tree ‘n jong ML Fick atleet in haar rooi, groen en geel Noordweskleure nader aan die wenstreep. Die plaaslike skare juig, skree, en maak op enige denkbaar moontlike manier geraas om dié Potchefstromer tydens die SA Laerskole Atletiekkampioenskappe wat op 24 en 25 Maart in Potchefstroom plaasgevind het, aan te moedig. Met …
Stap vir stap tree ‘n jong ML Fick atleet in haar rooi, groen en geel Noordweskleure nader aan die wenstreep. Die plaaslike skare juig, skree, en maak op enige denkbaar moontlike manier geraas om dié Potchefstromer tydens die SA Laerskole Atletiekkampioenskappe wat op 24 en 25 Maart in Potchefstroom plaasgevind het, aan te moedig.
Met haar laaste tree oor die wenstreep word Janise Nell se drome waar: Nie net is sy ‘n goue medaljewenner en SA kampioen in die 1500 meter stap vir meisies o.13 nie, maar ook die enigste Potchefstromer wat dit kon regkry.
“In my 33 jaar van onderwys, het ek lanklaas sulke oorheersing op die atletiekbaan gesien. Om met 150 meter te kon wen op nasionale vlak is iets besonders. Ons as skool is ontsettend trots op hierdie ML Fikker wat hierdie prestasie behaal het,” sê mnr. Lourie van der Merwe, skoolhoof van Laerskool ML Fick.
Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak is dat Janise eers verlede jaar met stap as atletiekitem begin het. Nou is sy onder die top 14 atlete algeheel by die SA kampioenskappe met haar tyd van 07:32.45
“Dit beteken baie vir my om SA’s te kon wen omdat ek so hard gewerk het. Ek voel baie goed om te weet dat ek die beste in die land is,” meen Janise, wat onder Jessica Groenewald se afrigting tans floreer.
Volgens die jong blondekop stapper is hierdie sport haar eerste keuse, omdat sy meer geleentheid gekry het om by SA’s uit te kom as by ander atletiekitems.
“Die doel by die SA’s was eerstens om net ‘n goeie tyd te stap. Toe ek sien dat ek ‘n kans het om te wen het ek net van die begin af hard gestap en my alles gegee. Tegniek is die belangrikste om jou spoed te behou.”
Janise se ouers en familie wat haar kom ondersteun het was net so verbaas oor haar wen, maar tog terselfdertyd bly oor haar besondere prestasie.
“Dit was lekker dat my ma en pa-hulle daar was. Dit het dit ekstra spesiaal gemaak. Ons was eintlik almal verbaas oor hoe goed ek gestap het.”
Hierdie atleet gaan definitief nog ver gaan en hierdie mag net die begin van groot dinge vir Janise wees wat alles voluit uit haar hart doen.
”My oupa en ouma het voor hulle oorlede is gesê dat ek uit my hart uit moet werk as ek moeg is en daar sal ekstra krag kry as dinge moeilik gaan. Doen altyd alles voluit en moenie bekommer wat ander mense sê nie.”



