Luiperds begin Supersport-Uitdaagtoernooi op wennoot
Die Luiperds is goed op koers in die nuwe Supersport Uitdaagtoernooi nadat hulle die Griffons Saterdag, 22 April in hulle eerste wedstryd van die seisoen met ’n 29-17 oorwinning in Welkom geklop het. Sodoende het die Luiperds die bordjies verhang en kon met die spogregte na Potchefstroom terugkeer. Die soete oorwinning is te danke aan …
Die Luiperds is goed op koers in die nuwe Supersport Uitdaagtoernooi nadat hulle die Griffons Saterdag, 22 April in hulle eerste wedstryd van die seisoen met ’n 29-17 oorwinning in Welkom geklop het.
Sodoende het die Luiperds die bordjies verhang en kon met die spogregte na Potchefstroom terugkeer. Die soete oorwinning is te danke aan ’n woelige agterlyn, goeie taktiese skopwerk en klipharde vertonings voorlangs, waar slot Loftus Morrison juis uitgeblink het. Morisson, wat ook as die Speler van die Wedstryd aangewys is, het nooit opgehou om vir werk op die veld te soek nie.
Duidelik kan mens sien dat hy sy plek in die Varsitybeker Droomspan verdien het met nog ’n goeie vertoning, dié keer in Luiperdsgelaat.
Morrison het ook in die doodsnikke ’n drie gaan druk om die telling meer skaflik in die Luiperds se guns te laat lyk. Tog was die Griffons se spel ook waffers en hulle het die Luiperds ’n paar kere laat kopkrap veral in die tweede helfte toe dit gelyk het of die Luiperds se tenk bietjie leeg geloop het.
Die tuisspan het drie drieë danksy Kwhezi Mkhafu, Neil Claassen en Henco Greyling gaan druk, met hulle pak voorspelers wat die meeste druk op die Luiperds geplaas het.
Die besoekers het wel aan hulle voorsprong geklou om met glimlagte van die veld te stap. Op losskakel het Schalk Hugo ’n goeie wedstryd gehad en 15 punte, wat ’n drie ingesluit het, bygedra. Vleuel, Gene Willemse het twee keer agter die doellyn gaan kuier.
“Dit is baie goed om met ‘n wen te kon begin. Ons het ons geleenthede benut, maar ‘n swakker tweede helfte gehad en die Griffons kans gegee om terug te kom. Vorentoe sal die spelers die voordeel moet gebruik eerder as om terug te sit. Ons moet die wedstryd beter beheer,” meen Luiperds afrigter Jonathan Mokuena.
Die Luiperds speel komende Saterdag teen die Griekwas in Kimberley, wat weer ‘n taai kragmeting sal wees. ’n Wen vir die Luiperds op Hoërskool Diamantveld se klipharde velde sal net nog ’n bewys wees dat die Luiperds op die regte spoor is vanjaar.
Luiperds teen Griekwas:
Tapiwa Mafura, Rowayne Beukman, Elden Schoeman, Henko Marais, Gene Willemse, Schalk Hugo, Chriswill September, Juan Language (kaptein), Marno Redelinghuys, Gideon van der Merwe, Walt Steenkamp, Boela Venter, Morné Strydom, Dane van der Westhuyzen, Joe Smith. Reserwes: Chukkie van der Westhuizen, Maganjyi, Loftus Morrison, Jeandré Rudolph, Wessel Kuhn, Gerhard Nortier en Lungelo Goza.



