Luiperds trap klei teen Haaie in modderige Margate
Die Luiperds het met vuil klere en ‘n bevlekte kol op hulle Supersport-Uitdaagtrofee prestasielys na Potchefstroom teruggekeer nadat hulle ‘n 32-5 nederlaag teen die Haaie in Margate moes trotseer. In hierdie nat en modderige wedstryd het die Luiperds hulle eerste wedstryd in dié bogenoemde reeks teen ‘n sterk Haai-span verloor. Dit was juis die voormalige …

Die Luiperds het met vuil klere en ‘n bevlekte kol op hulle Supersport-Uitdaagtrofee prestasielys na Potchefstroom teruggekeer nadat hulle ‘n 32-5 nederlaag teen die Haaie in Margate moes trotseer.
In hierdie nat en modderige wedstryd het die Luiperds hulle eerste wedstryd in dié bogenoemde reeks teen ‘n sterk Haai-span verloor.
Dit was juis die voormalige Luiperds-generaal, Benhard Janse van Rensburg, wat skade aan sy voormalige spanmaats met 7 punte en goeie spel in die agterlyn gerig het.
Die Haaie flank, Jacques Vermeulen was ook op sy stukke gewees en het ‘n driekuns behaal om die wind uit die Luiperds se seile te slaan. John-Hubert Meyer en Kerron van Vuuren het die ander drieë vir die Haaie gaan druk.
Die modderige Margate veld het toestande nie vergemaklik nie, maar die Haaie het definitief die toestande beter benut en hulle voorspelerpak was definitief baas gewees.
Tapiwa Mafura was die enigste Luiperd wat punte kon aanteken en het met sy drie voor halftyd die gemoedere gelig.
Tog was die Luiperds heeltyd op die agtervoet en moes op tye sonder Loftus Morrison en Juan Language speel wat weens geelkaarte die veld vir herhaaldelike strafskoppe moes verlaat. Volgens Luiperds afrigter, Jonathan Mokuena, het die reën ‘n groot faktor gespeel en hulle voorbereiding effens in die wiele laat ry.
“Ons moes vinnig aanpas en kon nie ons spel speel wat ons wou teen die Haaie nie. Dinge het nie te goed gegaan nie en die Haaie het baie meer lae risiko rugby gespeel wat in hulle guns getel het.”
Volgens Mokuena het dit ook glad nie gehelp dat die Haaie 11 lynstanballe van die Luiperds af gesteel het nie.
“Hulle het ons onder geweldige druk daar geplaas en ons kon nie balbesit behou nie. Die verloor het die ouens laat wakker skrik en ons gaan nou in die komende weke kyk waar ons as span kan verbeter. Die manne is steeds in ‘n goeie bui en gereed om die Griekwas oor twee weke aan te vat,” noem Mokuena, wie se span hierdie naweek ‘n loslootjie het.



