Gimmieglorie op Volkieveld
Die 2017 Classic Clash wintersport-naweek tussen die twee tradisionele bastions van skolesport in Potchestroom sal met heimwee onthou word, of na nabetragting vergeet wil word. Dit hang natuurlik af aan die kant van die dorp waar jou lojaliteite lê. Vir Gimmies sal dié Classic Clash lank in die geheue gebrandmerk word as een van die …
Die 2017 Classic Clash wintersport-naweek tussen die twee tradisionele bastions van skolesport in Potchestroom sal met heimwee onthou word, of na nabetragting vergeet wil word.
Dit hang natuurlik af aan die kant van die dorp waar jou lojaliteite lê. Vir Gimmies sal dié Classic Clash lank in die geheue gebrandmerk word as een van die mees dominerende vertonings nog, waar hulle met ‘n 78 persent wenpersentasie spog nadat hulle 29 van die wedstryde, sowel as al die eerstespan-wedstryde gewen het.
‘n Goeie voorbeeld hiervan was die eerstespan rugbywedstryd, wat die hoogtepunt van die naweek was. Gimmies, onder leiding van hulle skitterende kaptein, George van der Westhuizen het Volkies uit die veld geslaan met ‘n aggressiewe en dominerende eerste helfte wat die fondasie vir hulle 32-18 oorwinning gelê het. Van der Westhuizen het ‘n drie gedruk, was woelig in die losgemaal en het in die lynstane gepronk.
Ander uitblinkers vir Gimmies in dié stryd was losskakel Edrich Cronjé, senter, Mitchelle van der Merwe en stut, Arno Gustafson.
Volkies het baklei in die tweede helfte en mooi teruggekom maar die koeël was deur die kerk. Jacques Gouws en Duardt Snyman het hier hulle hand vir Volkies opgesteek.
Nietemin het Gimmies, wat die gunsteling voor die wedstryd was, net te veel skietgoed gehad en met Cronjé se drie net voor die sirene gelui het, moes Volkies die wit vlag hys.
Trouens, Volkies het op rugbygebied swaar gekry en slegs hulle o.16A-span kon op Arendsvlerke na ‘n 24-5 oorwinning sweef. Hierdie span kan gerus dopgehou word en Volkies kan glimlag dat hulle sulke talent soos Jannie Claassens (senter), Janco Joubert (vleuel) en Wikus Marais (agtsteman) het. Gimmies se o.15 A-span het ook geen kans vir hulle teenstanders gegee nie en 31-0 skoonskip gemaak.
Hier het staatmakers soos Liardt Redelinghuys (senter) bewys dat Gimmies diepte in hulle jong troepe vir die toekoms het.
Op die hokkievelde het Gimmies ook gedomineer met die eerste seunshokkiespan wat 3-0 gewen het. Dit was nie altyd eenrigting verkeer nie, maar ‘n mens kon duidelik sien dat Gimmies die temperament het en baie gemakliker gespeel het.
Matthew Haupt, Adriaan Rontgen en Lumka Gebengana stuur die bal in die hok vir Gimmies. Divan Mienie en Landré Halgryn blink ook uit gedurende dié stryd.
Die dogtershokkiespanne was ook net so suksesvol en het ook 3-0 geseëvier met die Huysamen sussies, Mignon en Minique, sowel as Julianne du Plessis en Caerie Bothma wat die bal laat sing het.
Volkies se Roselle Pyper en Suzette Schulenburg het ook nie tou opgegee nie en het die meeste in ‘n verloorpoging beïndruk.
Op netbalgebied was Gimmies ook hopeloos te sterk vir Volkies en het die eerstespanwedstryd met 33-23 gewen. Gimmies was in beheer vir 90 persent van die wedstryd. Leonie Maree was soos ‘n hoë muur met doringdraad en het Volkies se wenpoging met puik verdediging seergemaak.
Volkies se Michaela Reid en Nelanie le Roux het hul bes gedoen, maar Gimmies was net ratser en meer gedetermineerd om die netbaltitel te verower. Gimmies se Junior SA-ster, Melissa Smit, se trane van blydskap na die stryd is net ‘n bewys van hoeveel hierdie oorwinning vir almal beteken.
Dit is soos ‘n erewapen op die bors om in voormalige Volkies en Gimmies se wenvoetspore te stap – ‘n oomblik vasgevang wat nooit vergeet sal word nie.
Kyk die foto’s van die eerstespanwedstryd hier:
(Foto’s – Wouter Pienaar)













































































