Duiwewedvlugseisoen weer in volle vlug
Die duiwewedvlugseisoen wat Saterdag vanaf Kimberley (316km) afgeskop het, kon nie vir ‘n beter begin gevra het soos wat dosent Sarel Naudé dit gedoen het nie. Dit was uiters opwindend vir Naudé wat sy 14 klubmaats van Potch Posduifklub (P.P.K.) verpletter het! Alhoewel hy vanjaar twee spanne vlieg, kon nog baie min duiweboere hom dit …

Die duiwewedvlugseisoen wat Saterdag vanaf Kimberley (316km) afgeskop het, kon nie vir ‘n beter begin gevra het soos wat dosent Sarel Naudé dit gedoen het nie. Dit was uiters opwindend vir Naudé wat sy 14 klubmaats van Potch Posduifklub (P.P.K.) verpletter het!
Alhoewel hy vanjaar twee spanne vlieg, kon nog baie min duiweboere hom dit ooit nadoen. In die jaaroud-wedvlug kon net Rassie de Jager hond haaraf maak my sy tweede plek. Verder het Naudé buiten sy wenplekke 3 tot 13 verower. Hierdie 12 duiwe was almal binne 1 min 17 sek in die hok!
In die opevlug wen die uiters dinamiese en Renosterdrifkenner, Eddie Bondesio sy eerste wen sedert sy toetrede tot die duiwesport ‘n paar jare gelede. Naudé verower hier plekke 2 tot 7.
In die jaaroud-kompetisie maak Naudé baie punte bymekaar. Sy “A” span vlieg voor met 216 punte, en sy “B “ span met 178 punte nie ver agter nie. Verkeersman Nic Stassen is derde met 141. In die ope-kompetisie is Naudé reeds met sy 267 punte, 111 punte voor verlede jaar se klub- en unie kampioen, Kiewiet Marais se 156. Naudé se “B” span is derde met 119.
By Mooirivier Resiesduifklub (M.R.K) het Johan Schlebusch verlede jaar se klubkampioen gewys hy is weer lus om vanjaar goed te vlieg.
In die jaaroud-wedvlug vlieg Riaan Grobler se duifie voor en wen die wedvlug met ‘n skrale 3 sekondes. Arrie Marais eindig tweede en Grobler se tweede duif slegs 3 sekondes na sy wenduif. Schlebusch verower hier plekke 5 tot 10.
Fanie en familie begin groot en maak die eerste opevlug van die jaar syne! Prokureur Hennie Aucamp se duifie eindig slegs 22 sekondes na die wenner in die tweede plek. Suidwester Willem Moolman eindig hier derde.
Ten spyte dat Schlebusch geen wen gevlieg het nie, is hy voor in die jongduiwe-afdeling met 148 punte teenoor Arrie Marais se 60 en Grobler se 58. In die ope-afdeling is Schlebusch met 101 voor, Aucamp tweede met 59 en Moolman derde met 57.
Vanjaar se wedvlugte dui nou reeds daarop dat die manne groot opwinding gaan veroorsaak. Volgende week se wedvlug gaan plaasvind vanaf Campbell, wat ‘n afstand van 403 km vanaf Potch is. “Welkom terug ons kleintjies! Veilig vlieg!



