SportSport

Tienkamp se Coertzen bêre sy atletiekskoene met trots

Na ’n dekade as Suid-Afrika se voorste en enigste vaandeldraer in die tienkamp, het Willem Coertzen besluit om sy swart atletiekstewels op te hang en sy hoofstuk as een van SA se top internasionale atlete finaal af te sluit. Coertzen, wat die huidige SA rekordhouer met 8 398 punte in die tienkamp is, is tans …

Na ’n dekade as Suid-Afrika se voorste en enigste vaandeldraer in die tienkamp, het Willem Coertzen besluit om sy swart atletiekstewels op te hang en sy hoofstuk as een van SA se top internasionale atlete finaal af te sluit.

Coertzen, wat die huidige SA rekordhouer met 8 398 punte in die tienkamp is, is tans by die NWU-Pukke as afrigter betrokke en dié Olimpiese atleet glo dat hy nou na jare se harde werk en passie sy ervaring kan terugploeg na jong atlete toe.

“Dit was werklik ‘n avontuur en ‘n groot seën om my land op die hoogste vlak te kon verteenwoordig. Ek voel dit is nou tyd om al my kennis met ander te deel, waar ek nou die tienkamp vir mans en die sewekamp vir vrouens afrig. Veral in Suid-Afrika is dit belangrik om goeie afrigting te handhaaf, veral omdat daar ‘n tekort aan spesialis afrigting is.

Dit is nogal interessant dat Coertzen se intrapslag in die tienkamp het eintlik heel toevallig gebeur toe hy in 2004 die Olimpiese Spele in Athene op televisie se tienkamp-item gesien het.

Willem Coertzen in aksie tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen
Willem Coertzen in aksie tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen

“Ek het dadelik aanklank daarby gevind. Op skool het ek allerhande sportsoorte beoefen en eintlik was rugby my groot fokus toe ek aan die Puk kom studeer het. Ek onthou spesifiek toe ek die tienkamp op TV sien dat ek my pa gebel het en hom van my planne vertel het,” noem Coertzen.

In dieselfde jaar het Coertzen aan die SA Junior Atletiekkampioenskappe se tienkamp-item deelgeneem en homself goed van sy taak gekwyt, sonder enige werklike oefening of voorbereiding.

Daar was daardie tyd geen spesialisafrigting in tienkamp in die land nie en sodoende het Willem besluit om Engeland toe te trek waar hy saam met Greg Richards se oefengroep in Londen begin oefen het. Die res soos hulle sê, is geskiedenis.

Volgens Coertzen het hy twee groot hoogtepunte wanneer dit by die tienkamp kom, wat duidelik vir hom uitstaan.

“My eerste Olimpiese Spele in Londen in 2012 was vir my baie spesiaal gewees en om boonop nog ‘n top 10 plek te kry (negende) was net briljant.

Die jaar daarna was ek ook weer negende by die 2013 Wêreldkampioenskappe in Moskou. Ek het myself nog altyd teen die Europese atlete in Europa getoets en daar is tienkamp massief. Tienkamp is waar jy jouself gedurig verbeter om meer punte te kry. Dit is daardie persoonlike verbetering wat vir my lekker was.”

Tog was dit maar ook vir Coertzen ‘n baie alleen-pad wat hy moes stap as ‘n tienkampatleet waar hy baie van sy eie harde werk moes insit om te kom waar hy is, veral toe hy weer in 2013 na Suid-Afrika teruggekeer het.

“Dit is maar die passie vir die sport wat ‘n mens dryf. My vrou (Odette Murray) was nog altyd my rots gewees en het my deur dik en dun bygestaan in my loopbaan. My familie, vriende en afrigters deur die jare kan ek nie genoeg bedank nie.

“Atlete in Suid-Afrika kry wel bittermin bystand as ‘n mens dit met die Europese en Amerikaanse atlete vergelyk.

Dit is eintlik ongelooflik hoeveel ons atlete jaar na jaar teen die beste in die wêreld regkry. Ek moes baie sukkel sonder werklike finansiële bystand en ek weet hoekom baie van ons atlete verlore gaan.”

Dit is dan juis goed dat Coertzen al sy ervaring en kennis in atletiek wil terugploeg en dalk sal sy passie weer die nuwe opkomende generasie inspireer om ook die Olimpiese paadjie te volg.

Willem Coertzen het nou sy atletiektokse opgehang, maar hy gaan steeds by atletiek betrokke bly en trek nou eerder sy afrigtingsskoene aan by NWU-Pukke.
Willem Coertzen het nou sy atletiektokse opgehang, maar hy gaan steeds by atletiek betrokke bly en trek nou eerder sy afrigtingsskoene aan by NWU-Pukke.
Willem Coertzen in aksie tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen
Willem Coertzen in aksie tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button