Rugbyinstituut pronk in Super Rugby-reeks
Die eindstryd van vanjaar se Super Rugby-reeks is hier en wat Suid-Afrikaanse spanne betref het veral die Leeus ʼn opwindende prentjie vanjaar geskets. Benewens Johan Ackerman se trop wat Saterdag die Crusaders in die eindstryd aandurf, het die Stormers sowel as die Sharks ook die top-agt gehaal. Spelers en afrigters wat hul tande by die …
Die eindstryd van vanjaar se Super Rugby-reeks is hier en wat Suid-Afrikaanse spanne betref het veral die Leeus ʼn opwindende prentjie vanjaar geskets. Benewens Johan Ackerman se trop wat Saterdag die Crusaders in die eindstryd aandurf, het die Stormers sowel as die Sharks ook die top-agt gehaal.
Spelers en afrigters wat hul tande by die Noordwes-Universiteit se Rugbyinstituut geslyp het, was vanjaar orals te vinde.
By die Bulls het Martin Dreyer, John-Roy Jenkinson, Edgar Marutlulle, Lood de Jager en Luther Obi deel van die Pretorianers se Super-groep uitgemaak terwyl Aranos Coetzee in die Cheetahs se range verskyn het. Quintin Kruger dien in Bloemfontein as die Cheetahs se kondisioneringsafrigter.
Vir die Stormers het heelagter SP Marais geskitter. Wat die Sharks betref spog die Durbaniete met twee voormalige NWU-afrigters in hul geledere met Robert du Preez as hoofafrigter en Jaco Pienaar wat die voorspelers brei. In die toonaangewende Lions se kamp het almal van Akker van der Merwe, Robert Kruger, Dillon Smit en Sylvian Mahuza tot sukses in die Goudstad bygedra.
Die Kings is vanaf 2018 nie meer deel van die Super Rugby-reeks nie, maar hulle het al wat leef en beef eindeloos met ses seges beïndruk. ʼn Pluimpie dan vir die NWU se voormalige skopafrigter, Henning van der Merwe, wat gesorg het dat die Kings se korrel in die kol is. André Tredoux, die man wat soveel sukses met die Rugbyinstituut se juniorspanne gehad het, rig nou by die Docomo Red Hurricanes in Japan af.
Ná ʼn 2016-seisoen wat liefs vergeet kan word, is die Springbokke terug op die wenpad en was die Franse Hane oortuigend in drie toetse geklop. Matthew Proudfoot, een van die Rugbyinstituut se grootste geeste, is dié span se hulpafrigter.
“Dit maak ons ongelooflik trots om te kan sê dat die Rugbyinstituut ʼn bydra lewer tot die land se rugby-welstand, nie net op die hoogste vlakke nie, maar van grondvlak boontoe. Ons wil ook vir die Lions en Johan Ackerman sterkte toewens. Die Lions het die afgelope paar jaar uitstaande rugby gespeel en vir almal gewys wat met die regte ingesteldheid bereik kan word. Nie net die Rugbyinstituut nie, maar die hele NWU en die hele land staan Saterdag bankvas agter julle,” het Mervyn Taylor, bestuurder van die Rugbyinstituut, gesê.



