SportSport

Luiperds soek oorwinning teen Valke in Brakpan

Brakpan is in die Luiperds se visier hierdie komende Vrydag, 6 Oktober vir ‘n Curriebeker Eerste Divisie-kragmeting teen die Valke. ‘n Oorwinning sal vir die Luiperds ‘n tuis halfeindstryd op Olënpark besorg. Indien die Luiperds verloor, sal hulle heel waarskynlik teen die Valke weer in ‘n wegwedstryd speel, terwyl ‘n oorwinning ‘n tuiswedstryd teen die …

Brakpan is in die Luiperds se visier hierdie komende Vrydag, 6 Oktober vir ‘n Curriebeker Eerste Divisie-kragmeting teen die Valke.

‘n Oorwinning sal vir die Luiperds ‘n tuis halfeindstryd op Olënpark besorg. Indien die Luiperds verloor, sal hulle heel waarskynlik teen die Valke weer in ‘n wegwedstryd speel, terwyl ‘n oorwinning ‘n tuiswedstryd teen die Valke of Boland Kavaliers sal bring. Baie is sodoende op die spel en Jonathan Mokuena se manne sal so gou moontlik hulle 28-22 nederlaag teen die Griffons in Klerksdorp verlede week wil vergeet.

Die Luiperds het nie net die naweek hulle onoorwonne rekord verbrou nie, maar moet ook weens beserings en interne dissiplinêre dilemmas verder kopkrap voor hulle wedstryd teen die Valke. ‘n Ligpunt vir Mokuena is wel hoe die jonger spelers hulle hande opgesteek het in die senior Luiperdsspan.

“Edmund Rheeder, Tiaan Bezuidenhout en Marius Stander het vanaf o.21-vlak goed deurgekom, al sou hulle nie so vroeg al in die seniorspan betrokke gewees het as dit nie vir beserings was nie. Dit is lekker om te sien dat hulle die geleenthede aangryp,” het Mokuena genoem.

Goeie nuus vir die Luiperds is dat Jeandré Rudolph van die beste rugby van sy loopbaan speel en na ‘n driekuns teen die Griffons sal hierdie agtsteman sekerlik eerder gouer as later die groter unies se aandag trek.

“Jeandré was nog altyd ‘n goeie speler, maar ek dink die kapteinskap het hom as mens ook laat groei. Hy bring sy kant en vanjaar het hy baie meer volwasse geword,” het Mokuena gesê.

Volgens Mokuena sal die Valke voorlangs sterk wees en veral met dryfmaalbewegings die Luiperds onder druk plaas.

“Hulle speel goed as ‘n span saam en ons sal moet seker maak dat hulle nie momentum kry nie. Ons sal balbesit moet hou en op ons wedstrydplanne fokus. ‘n Wen vir ons is noodsaaklik vir ‘n tuiswedstryd volgende week.”

* Die wedstryd teen die Valke skop om 16:00 af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button