2017 se top 5 sportoomblikke in Potch
Potchefstroom se sportlui het in 2017 weer hulle blinkste sportbaadjies aangetrek en hul talente en vaardighede ten volle ontbloot. Van jonk tot oud, ervare staatmakers en nuwe opwindende name het in dié sportstad geskitter. Hier is my keuse van die beste sportoomblikke in Potch, waar ek vyf gebeurtenisse uitsonder. In der waarheid was dit ‘n …
Potchefstroom se sportlui het in 2017 weer hulle blinkste sportbaadjies aangetrek en hul talente en vaardighede ten volle ontbloot.
Van jonk tot oud, ervare staatmakers en nuwe opwindende name het in dié sportstad geskitter. Hier is my keuse van die beste sportoomblikke in Potch, waar ek vyf gebeurtenisse uitsonder. In der waarheid was dit ‘n moeilike taak om te kies, aangesien daar ‘n oorvloed noemenswaardige prestasies was.
Nietemin, nes net een atleet goud op die Olimpiese Spele kan verwerf, kan daar ook net ‘n paar gebeurtenisse die Herald se goue status verkry.
5. Volkies se eerste krieketspan wen die Noordwes-finaal vir die eerste keer in 23 jaar.
Daar was ‘n gevoel van verligting op Volkies se A-krieketveld op 14 Oktober vanjaar toe die Eerste Krieketspan uiteindelik na meer as twee dekades, die Noordwestrofee verower het. Vir die afgelope drie jaar het Volkies se eerste krieketspan in die eindstryd gespeel en die vorige twee jaar teen hulle aartsvyand verloor. In 2017 is die bordjies verhang met ‘n naelbyt 1 paaltjie oorwinning. Die spanning in hierdie wedstryd tesame met beide spanne se wil om te wen, het hierdie een van Potch se beste sportoomblikke gemaak.

4. NWU ryg die USSA-titels in
Die NWU het vanjaar weer bewys dat hulle op die sportgebied ‘n krag is om mee te reken, met puik USSA vertonings in karate, netbal en swem, om net ‘n paar te noem. Die NWU Karateklub het vir ‘n verstommende 18de agtereenvolgende USSA oorwinning onder die bekwame leiding van Sensei Johan van Tonder gesorg. In netbalnuus het die NWU die USSA kampioenskappe op hulle tuisbaan gewen, maar kon ongelukkig nie vir ‘n derde jaar in ‘n ry die Varsity Netbaltrofee verower nie. Die NWU se atletiekspan is ook USSA kampioene met ‘n puik spanpoging vroeër vanjaar in Kaapstad.

3. ASNW kook met groot SA atletiekbyeenkomste in die hartjie van Potch
Die bestuur van Atletiek Sentraal Noordwes kan gerus ‘n glasie vonkelwyn op ‘n uitsonderlike jaar klink, waar hulle hul vingers stompies afgewerk het om twee uiters suksesvolle nasionale prestige atletiekbyeenkomste aan te bied. Jean Verster, Richardo Ellis en kie het seker gemaak dat alles klopdisselboom loop by die SA Atletiekkampioenskappe in April, sowel as die SA Landloopkampioenskappe in September vanjaar.
Natuurlik was die sukses van beide byeenkomste ook aan die toeskouergetalle en atlete se prestasies gemeet wat noemenswaardig was. Pochefstromers het die Kenneth McArthur Stadion volgemaak en luidrugtig gejuig toe atletiekhelde soos Caster Semenya, Wayde van Niekerk, Luvo Manyonga en Akani Simbine hulle staal bewys het. Die oomblik van die kampioenskappe was sonder twyfel die 43-jarige Chris Harmse se 22ste agtereenvolgende titel as SA Hamergooikampioen. Sy trane van verligting en blydskap het die krag van sport in ‘n neutedop uitgebeeld.
2. Protea kolwer David Miller moker ’n nuwe wêreldrekord in Potch
Die tuiste van Noordwes Krieket, Senwes Park, het op 29 Oktober van die beste krieket nog opgelewer toe die Protea kolwer, David Miller ‘n nuwe Wêreldrekord vir die vinnigste honderdtal in internasionale T20 krieket teen die toerspan van Bangladesj opgestel het. Miller het sy honderdtal van ‘n verstommende 35 balle aangeteken met viere en sesse wat op Senwespark gereën het. Dit was ‘n verstommende gebeurtenis en een wat krieketliefhebbers in Potch met vreugde ervaar het. Dit sal beslis as een van daardie “ek was daar” oomblikke onthou word.

1. NWU is Varsitykrieket-kampioene en Wêreldstudentekampioene
2017 was beslis die beste jaar nog in die NWU Krieketklub se roemryke geskiedenis. Sukses het alreeds vanjaar vlamgevat toe die universiteit as die Varsitykrieket-kampioene gekroon is.
Hulle het ook die Noordwesliga ingepalm, voordat hulle die pad na Sri-Lanka aangedurf het om aan Red Bull Wêreld Kampuskrieket-toernooi deel te neem.
In November het die NWU-Pukke kolwer, Shane Dadswell vir die kersie op die koek gesorg toe hy die hoogste telling nog in amateur eendagkrieket in die wêreld aangeteken het, met ‘n reuse 490 van 151 balle in ‘n Noordwes Premierligawedstryd teen Potch Dorp op Witrand. In die proses het NWU-Pukke ook ‘n rekord 677/3 na 50 beurte opgestel.
Die vraag is op enigeen dié NWU-Puk krieketmasjien in 2018 kan stop.









