Geen uitklophou in 33-33 rugbygeveg
Soos twee swaargewigboksers het die NWU en Maties mekaar met harde rugby Maandag, 26 Maart bloedneus geslaan in hulle Varsitybekerwedstryd op die Fanie du Toit Sportgronde. In twee rondtes van 40 minute elk was albei kop aan kop in ’n 33-33 vyfster rugbygeveg. Albei spanne het die tegniek en flink voete op die aanval sowel …
Soos twee swaargewigboksers het die NWU en Maties mekaar met harde rugby Maandag, 26 Maart bloedneus geslaan in hulle Varsitybekerwedstryd op die Fanie du Toit Sportgronde. In twee rondtes van 40 minute elk was albei kop aan kop in ’n 33-33 vyfster rugbygeveg.
Albei spanne het die tegniek en flink voete op die aanval sowel as die deursettingsvermoë en hart op die verdediging gewys. Nie NWU of Maties kon hul teenstander teen die spreekwoordelike toue kry nie en op die ou einde was daar geen uitklophou nie.
Dié tweestryd was ’n wafferse toutrekkery waar een kant by tye momentum gehad het, maar kort daarna weer grond verloor het met ’n goeie trek van die ander span wat sake in balans gebring het. Albei spanne kon hul hande omhoog hou, en al is ‘n gelykop beter as’n verloor, sou ’n oorwinning net soveel soeter gewees het. Dit het so bietjie herinner aan die 26-26 uitslag op die Danie Craven Stadion in 2015.
Maties het die eerste punte in die wedstryd aangeteken toe regtervleuel Duncan Saal na ’n goeie tikskoppie van Chris Smith, die eerste opstopper geplant het.
Die NWU het toe teruggevuur met die skitterende, Tapiwa Mafura, wat soos ’n minibus-taxi die gaping gevat het en ’n puik aangee vir Wandile Mazibuko gegee het om te gaan druk. Mafura het toe self oomblikke daarna in die hoekie oorgeduik vir ’n drie van sy eie. NWU se staatmaker haker, Louis van der Westhuizen, het ook in die eerste helfte sy hou met ’n drie ingekry. Maties het wel die pleisters geplak en was weer reg vir aksie met skrumskakel Remu Malan en die voormalige NWU haker, Wilmar Arnoldi, wat net voor halftyd ’n belangrike drie druk om de halftydtelling 26-21 te maak.
Maties het die tweede helfte gedomineer met hulle pak en voorry wat veral probleme vir die NWU veroorsaak het. Die Stellenbossers was ook baas in die lynstane en het die tuisspan se spelpatroon ontwrig. Dit was toe geen verrassing dat Maties die voortou neem toe Arnoldi sy tweede drie aanteken om sy span 33-26 te laat voorloop nie.
Die NWU het wel nie opgegee nie en al was hulle een of twee keer teen die vloer, het hulle met ’n briljante opportunistiese drie van senter, Henko Marais, die laaste sê gehad. In die opbou tot die drie het dit gelyk of die bal vorentoe aangeslaan is, maar met ’n nadere kyk het die bal ’n Maties-vleuel Edwill van der Merwe getref. Marais het met die reflekse van ’n kat sy arm na die los bal uitgestrek en sentimeters voor die doodlyn gedruk. Die skare was in vervoering nadat die televisieskeidsregter in die NWU se guns beslis het. Die telling is na 33-33 gebring nadat Schalk Hugo se doelskop suksesvol was en so het die telling onveranderd tot die eindfluitjie gebly.
“Dit was ’n baie taai wedstryd waar albei spanne alles ingesit het. In my opinie het my spelers moeite ingesit, al was dit nie die uitslag wat ek voor gehoop het nie,” noem NWU afrigter Jonathan Mokuena.
Volgens Mokuena kon hierdie harde kragmeting tussen twee topspanne nie op ’n beter tyd gekom het nie. “Dit was absoluut noodsaaklik om ’n harde wedstryd soos hierdie agter die rug te kry net voor die halfeindstryde. ’n Mens kan sien watter groei die ouens deurgaan. Elke week is daar verbetering.”
Mokuena het ook die Powerplay in die eerste helfte geroep – iets wat die wenkbroue gelig het, aangesien meeste afrigters dit gewoonlik eers in die tweede helfte gebruik.
“Dit was die strategie omdat Maties voor rustyd kwesbaar was. Dit het nie perfek vir ons uitgewerk nie, maar darem kon ons die momentum gebruik om ’n drie net daarna te druk.”
Nou roep ’n halfeindstryd teen UJ vir die NWU weer op dieselfde veld die komende Maandag – en dié keer sal ‘n uitklophou geplant word.









