Plaaslike hoërskoolatlete druk goue stempel af by SA’s in Potch
Na ’n ongelooflike 268 items by die afgelope SA Skole Atletiekkampioenskappe in Potchefstroom wat vanaf 21 tot 24 Maart gehou is, het die plaaslike atlete van Atletiek Sentraal Noordwes (ASNW) nie net geskitter nie, maar alle verwagtinge oortref. Van die groot sterre vir ASNW was Gimmies se Karmen Fouché, wat goud behaal het in die …
Na ’n ongelooflike 268 items by die afgelope SA Skole Atletiekkampioenskappe in Potchefstroom wat vanaf 21 tot 24 Maart gehou is, het die plaaslike atlete van Atletiek Sentraal Noordwes (ASNW) nie net geskitter nie, maar alle verwagtinge oortref.
Van die groot sterre vir ASNW was Gimmies se Karmen Fouché, wat goud behaal het in die dogters o.15 hoogspring met ’n puik sprong van 1.70 meter. Sy het ook ’n silwermedalje in die verspringput behaal met ‘n persoonlike beste afstand van 5.69 meter.
Die stapper, Janise Nell van Volkies, was ook weer eens in ‘n klas van haar eie en het in haar eerste hoërskole SA’s die goud in die 5 000 meter stap vir o.15 dogters gewen.

Haar tyd van 26:56.69 was absoluut puik en heeltemal te goed vir haar mede ASNW spanmaat, Elri Prinsloo (Gimmies), wat tweede in ’n tyd van 28:30.16 klaargemaak het. Carla Kruger van Potchefstroom Girls High het ook ‘n briljante goud in die paalspring vir dogters o.15 gewen en is nou SA kampioen met haar merk van 2.90 meter.
Gimmies se Danielle Verster het ook puik in die 1 500 meter vir dogters o.15 gevaar met ’n bronsmedalje.
Die welbekende Potchefstroomse middel en langafstand afrigter, Nollie Meintjies se atlete het ook briljant gevaar. Dit was geen geheim dat die huidige SA kampioen in die hindernis, Robert de Villiers, groot kompetisie sou hê nie, maar hy het sy ervaring en deursettingsvermoë met twee puik goue medaljes bewys.
De Villiers het die 1500 meter item vir seuns o.19 naelskraap in 3:51.75 gewen, ’n kortkop voor Gauteng se Omphile Molotsi wat die eindstreep met 3:51.96 oorgesteek het. Die 3 000 meter hindernis-item was wel baie gemakliker vir De Villiers wat sy tweede goue medalje van die byeenkoms verwerf het. Cara du Preez het goud in die 2 000 meter hindernis vir dogters o.17 behaal (6:52.66). Mieke Rall was die ander plaaslike atleet wat onder Meintjies se vlerk ’n medalje huis toe gebring het met brons in die o.19 dogters 800 meter wedloop (2:14.13)
Kyk die foto’s hier:
Video: SA Skole Atletiekkampioenskappe kook in Potchefstroom





